praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:06:32:01 AM GMT

Jy is hier: Nuus Suider-Afrika ANC verdedig Malema

ANC verdedig Malema

E-pos Afdruk PDF

Die ANC het Julius Malema, die president van die ANC-jeugliga, Donderdag verdedig nadat hy “skiet die boere, hulle is verkragters,” gesing het.

Volgens hulle is die lirieke van die liedjie uit konteks aangehaal.

“Kom ons praat op ‘n gepaste wyse oor die saak. Moenie vir Julius blameer nie. Om die waarheid te sê, sal ek hom op hierdie een verdedig,” het Jackson Mthembu, woordvoerder vir die ANC, Donderdagoggend aan Sapa gesê.

“Hierdie liedjie is vir baie jare gesing, selfs nog voor Malema gebore is. Julius weet nie eers wie die skrywer van die liedjie is nie. Hy het dit van ons gekry. Julle moet die ANC blameer, moenie vir Julius blameer nie.

“Maar as julle die ANC blameer, plaas dit in konteks.”

Volgens Mthembu was dit ‘n ou struggle-liedjie wat Malema by sy ANC-kamerade geleer het.

Daar is so baie liedjies in Suid-Afrika se geskiedenis wat mense kan te na kom, het hy gesê. Hy het verwys na "liedjies oor generaals" - 'n moontlike verwysing na die Afrikaanse trefferlied De la Rey.

Die liedjie wat Malema gesing het was nie daarop gemik om die boere aan te val nie, het Mthembu gesê.

“As jy nie na die liedjie in geheel kyk nie, verloor jy die betekenis,” het hy gesê voordat hy dit oor die telefoon vir Sapa begin sing het.

“Die liedjie sê, ‘sommige mense is lafaards’, en dan word daar gesê ‘gebruik jou geweer om te skiet’, want dit herinner aan oorlog,” het Mthembu verduidelik.

Dit verwys na alle mense wat lafaards is, insluitende swartmense wat lafaards is, het hy gesê.

Die liedjie is glo ook in die verlede deur wit vryheidsvegters gesing.

Malema staar ‘n kriminele klag en ‘n klag van die Menseregtekommissie in die gesig nadat hy glo by die universiteit van Johannesburg "Dubula amabhunu baya raypha" (Zoeloe vir ‘skiet die boere, hulle is verkragters’) saam met ‘n groep studente gesing het.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: