Die ANC sal aandag gee aan die rassistiese uitbarsting van sy jeugliga-president, Julius Malema, by 'n studente-byeenkoms vandeesweek.
Volgens die Sowetan het Malema onder meer gesê: "Skiet die boere, hulle is verkragters".
Oud-pres. Nelson Mandela het vergifnis bepleit, maar swartmense moet nooit vergeet wat met hulle gebeur het nie, het Malema volgens die koerant gesê.
ANC-woordvoerder, Ishmael Mnisi, het gesê die party sal met Malema praat oor sy uitlatings.
"Ons is altyd in kontak met hulle en ons sal aanhou praat... selfs in hierdie geval," het Mnisi gesê.
Malema het glo ook die Kaapse premier, Helen Zille, daarvan beskuldig dat sy 'n satanis is en kerke in die Wes-Kaap afbreek.
Oor Patricia de Lille het hy glo onder meer gesê het dat geen normale man met haar sou trou nie.
Malema het glo ook gesê dat daar van "Nicky Oppenheimer se familie se rykdom gevat moet word om aan die mense van Suid-Afrika te gee".
| < Vorige | Volgende > |
|---|





