praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:06:32:01 AM GMT

Jy is hier: Nuus Suider-Afrika SUT-studente bekommerd oor taalbeleid

SUT-studente bekommerd oor taalbeleid

E-pos Afdruk PDF

Die Vryheidsfront Plus poog reeds vir meer as ‘n jaar, sonder sukses, om ‘n afspraak met die Rektor van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie-Vrystaat, prof. TZ Mthembu, te kry. Die VF Plus se tak aan die SUT ervaar verskeie probleme op studentevlak, waaronder die SUT se taalbeleid asook die proses wat gevolg word om die Studenteraad aan die SUT te verkies.

‘n Vergadering is tussen die VF Plus en die studentedekaan, mnr. Jan De Witt gehou, wat tot niks gelei het nie. Daarna is die registrateur, dr. MJG Vinger, se kantoor genader waarna die kampussekuriteit die VF Plus se studente wou verwyder aangesien die registrateur se kantoor aangedui het dat hy nie studente sien nie.

Die Rektor se kantoor is verskeie kere deur die VF Plus besoek en geskakel, wat keer op keer eenvoudig aangedui het dat die sake met die registrateur opgeneem moet word, wat self ontoeganklik is.

Hierdie ontoeganklikheid en die feit dat die taalbeleid nou stil-stil van dubbel-medium na slegs Engels verander is, gaan nou met die Kanselier opgeneem word. Die VF Plus gaan ‘n dringende skrywe aan die Kanselier rig waarin ‘n samespreking versoek word.

Die VF Plus het reeds in die verlede kommer uitgespreek oor die studente se rasse-samestelling en die feit dat wit studentegetalle dramaties afgeneem het en hul behoeftes nie meer geakkommodeer word nie. “Hierdie stap wat nou rakende die taalbeleid geneem is, gaan net tot verdere afname in wit studentegetalle lei,” het Jan van Niekerk, VF Plus-jeugleier gesê.

Hierdie is volgens die VF Plus diskriminerend teenoor studente wat in Afrikaans wil studeer. Die VF Plus steun die ontwikkeling van minderheidstale en is van oordeel dat onderrigtale nie verminder moet word nie, maar eerder moet vermeerder.

Die VF Plus oorweeg dit sterk om die saak met die Minister vir Hoër Onderwys, mnr. Blade Nzimande op te neem.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: