David Maynier, DA-LP, sê “die weermag word van sy operasionale vermoë gestroop” en het die toestand as "skandalig" beskryf.
Hy het dié opmerkings tydens ’n vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee oor verdediging gemaak.
Volgens die departement van verdeiging se strategiese plan vir die volgende drie jaar, wat Maandag by die parlement ingedien is, sal die Gripens se 550 vlieguur tot 250 uur per jaar afgeskaal word.
Die vloot se 18 vaartuie sal 1000 minder see-uur jaarliks kry.
“Kyk na maritieme verdediging: gegewe dít waaroor ons beskik en die ure op see waarvoor begroot word, sal vlootvaartuie 23 dae op see en 328 dae in die hawe wees. Dalk is agt vaartuie – insluitend die fregatte en duikbote – meer realisties: Dít beteken hulle sal 55 dae op see wees en 299 dae in die hawe bestee.
“Die lugmag: Ons het 11 Gripens en 550 vlieguur vanjaar beskikbaar, wat beteken hulle vlieg minder as die helfte van die ure wat vereis word om te voldoen aan NAVO-standaarde.
Die meeste van dié uur gaan tydens WB 2010 gebruik word en die vegvliegtuie sal tussen Julie en die einde van die boekjaar in hul loodse staan."
“Dit raak erger in die daaropvolgende jare: Wanneer al 26 Gripens afgelewer is, sal hulle gemiddeld 9,6 vlieguur per jaar vlieg.”
Thabang Makwetla, adjunkminister van verdediging, het gesê dis nie die departement se skuld nie en skuld op die gebrekkige verdedigingsbegroting geplaas.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





