Prof. Kobus van der Walt, van die skool vir geografie en omgewingsbestuur aan die Universiteit van Noordwes (NWU), het dië week by ’n seminaar van die Suid-Afrikaanse Kankervereniging (Kansa) gesê uraan is besig om vanaf die goudmyne langs die Wonderfonteinspruit in die Mooirivier in te sypel.
Volgens 'n berig in Beeld los die suur mynwater die swaar metale op, ook die uraan wat in die modder van die Wonderfonteinspruit en die Tweelopiespruit aanwesig is. Dit spoel dan stroom-af.
Die hoofnavorser van Kansa, Dr. Carl Albrecht, sê Potchefstroom se drinkwater is in gevaar omdat 800kg uraan jaarliks in die Boskopdam, die enigste waterbron van die inwoners, vloei.
Navorsers van Kansa het reeds uraan in die stof van die stofsuiers in Carletonville aangetref.
Danksy goudmynbedrywighede lê daar 600 000 ton uraan op die mynhope van die Wes-Rand. Die mynhope stel glo radongas vry.
Bron: Beeld
| < Vorige | Volgende > |
|---|





