Versoeke deur die Nasionale Metaalwerkersunie, Numsa, om Tokyo Sexwale en Patrice Motsepe se rykdom te nasionaliseer, kom uit jaloesie.
Só meen Gwede Mantashe, die sekretaris-generaal van die ANC.
Volgens Mantashe verwyt swart mense mekaar oor sukses.
“As enigiemand vooruitbeweeg, voel ons jaloers en verwens ons hulle sukses,” het Mantashe Dinsdag by Luthuli-huis aan die media gesê.
Beide Motsepe en Sexwale het groot voordeel getrek uit die regering se swart ekonomiese bemagtigingsprogram.
Motsepe is Suid-Afrika se rykste man.
Numsa se versoek kom ná die twee se name verlede Sondag op 'n Sunday Times-lys van die land se rykste mense verskyn het.
“Ons moet die jaloesie hanteer en nie stokkies draai nie. Dit is nie ‘n nasionaliseringsdebat wat deur Numsa gelug is nie,” het Mantashe gesê.
Mantashe het ook die publieke aanval deur die Jong Kommuniste-liga (YCL) op die ANC se tesourier-generaal, Matthews Phosa, gekritiseer.
YCL het Phosa gekritiseer omdat hy gesê het dat myne in die lande nie onder staatbeheer geplaas sal word nie.
“Persoonlike aanvalle en beswaddering is seker maniere om enige debat te ontspoor,” het hy gesê.
Mantashe het ook gesê sulke persoonlike aanvalle verswak die alliansie tussen die ANC, Cosatu en die SACP.
Dié tipe aanvalle op individue sal volgende week in bilaterale vergaderings bespreek word.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





