Ekwatoriaal-Guinee het vir Simon Mann, Britse huursoldaat, die Suid-Afrikaner Nick du Toit en drie ander vrygelaat.
Hulle is in 2004 in hegtenis geneem vir ‘n mislukte staatsgreep.
“Hulle het totale amnestie ontvang en is vry om te gaan,” het Jeronimo Osa Osa Ekoro, minister van kommunikasie, gesê.
“Hulle het 24uur om die land te verlaat na ‘n bestemming van hul keuse.”
President Teodoro Obiang Nguema, wat al sedert 1979 aan bewind is, het aan hulle amnestie gegee.
Die Britse en Suid-Afrikaanse huursoldate het 34 jaar tronkstraf ontvang vir hul rol om Obiang Nguema uit te dryf.
“Dit was glo ‘n persoonlike besluit deur die president, gebaseer op humanitêre redes,” het ‘n Britse woordvoerder in Londen gesê.
Die vier Suid-Afrikaanse burgers is tans by die Suid-Afrikaanse ambassade in Malabo en sal binnekort terugkeer na Suid Afrika.
Hulle vrystelling kom op die vooraand van president Jacob Zuma se geskeduleerde besoek aan Ekwatoriaal-Guinee.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





