Suid-Afrika se vroue 800m wêreldkampioen sal in November weet of die atletiekowerhede haar as 'n man of 'n vrou beskou.
"In beginsel sal die saak rondom 20 November voor die uitvoerende raad verskyn. Niks sal voor dit bekendgemaak word nie," het Pierre Weiss, sekretaris-generaal van die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies, IAAF, aan AFP gesê.
"Dit is duidelik dat sy 'n vrou is, maar dalk nie 100% nie. Ons sal moet sien of sy voordeel trek in vergelyking met ander atlete omdat sy moontlik tussen die twee geslagte is," aldus Weiss.
Die hoof van Atletiek Suid-Afrika, ASA, het intussen bewerings dat hulle weier om hul samewerking aan die IAAF te bied, ontken.
Die IAAF het tydens die kampioenskappe verskeie toetse op Caster Semenya uitgevoer om haar geslag te bevestig.
Die resultate is nou beskikbaar, maar die IAAF wil dit nie bekendmaak voordat hulle met Semenya gepraat het nie.
Volgens Nick Davies, IAAF-woordvoerder, probeer hulle met haar in verbinding tree.
Hulle sê die ASA geïgnoreer die pogings om haar te kontak.
Leonard Chuene, hoof van ASA, ontken egter dat die internasionale organisasie vir Semenya probeer kontak het.
“Dis absulute nonsens,” het hy gesê.
Hulle het blykbaar kommunikasie per e-pos gehad, maar “dit was oor iets totaal en al verskillend”, het hy gesê.
Spanning heers tussen die twee organisasies sedert die IAAF die ondersoek in Semenya se geslag aan die publiek bekendgemaak het.
Die IAAF is sedertdien in Suid-Afrika van rassisme beskuldig.
Gerugte doen die rondte dat Semenya geen interne vroulike organe het nie, en 'n hermafrodiet is.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





