Die weermag gaan nie dadelik die soldate wat aan 'n onwettige optog na die Uniegebou deelgeneem het, afdank nie. Die soldate sal ten minste nog twee maande aanbly.
Sandu (SA National Defence Union) het Woensdag die minister van verdediging Lindiwe Sisulu en die hoof van die Nasionale Weermag hof toe geneem om te keer dat sy lede afgedank word. Hulle voer ook aan dat die prosedure wat met die ontslag gebruik is, ongrondwetlik is.
Na verskeie ure se onderhandelinge, het die minister laat Woensdag onderneem om nie enige Sandu-lede wat aan die optog van 26 Augustus deelgeneem het, summier af te dank nie.
Volgens die ooreenkoms mag die weermag ook nie enige van die soldate se voordele opskort nie, maar hulle mag "herontplooi" word indien hulle in dieselfde geografiese gebied bly.
Dit mag beteken dat die soldate op spesiale verlof geplaas kan word met volle betaling, terwyl hulle voordele teruggehou kan word.
Die minister en hoof van die weermag is twee maande gegee om die aansoek teen te staan.
Die unie wil ook hê die hof moet die moontlike afdanking van hulle lede deur die weermag se interne stelsel verhoed. Volgens die weermag se kennisgewing aan die soldate wat aan die optog deelgeneem het, was hulle besig met kriminele aktiwiteite, het hulle die veiligheid van die land bedreig en is skuldig aan muitery.
Sandu se sekretaris Johannes Greeff sê die lede het om verlof aansoek gedoen, maar is verlof geweier omdat die unie reeds twee hofuitsprake in hulle guns gehad het.
Greef sê niemand het ooit aan hulle lede gesê dat die weermag op hoë veiligheid geplaas is nie. Die interdik om die optog te stop, sê Greef, is 'n halfuur voor die aanvang van die optog gelewer.
Teen daardie tyd was 3000 SANW-lede reeds voor die Pretoriase stadsaal saamgetrek.
Greef sê die weermaglede het onder polisiebegeleiding na die Uniegebou beweeg sodat hulle na die verklaring van die interdik kon gaan luister en het nooit aan 'n onwettige optog deel geneem nie.
Greef sê die prosedure van die weermag is "uiters onregverdig en onwettig" en die metodes om die ontslag van sekere lede te bewerkstellig "irrasioneel".
Hy sê ook die klagtes teen lede is so vaag dat dit antwoorde deur lede sal benadeel.
Greef het benadruk dat die "jammerlike optrede" van sommige lede by die Uniegebou nie aanvaarbaar was nie. Sandu sal hulle eie ondersoek na die voorval loods.
Cosatu het die besluit om die soldate te "herontplooi" geloof as 'n oorwinning vir menseregte.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





