Die VF Plus het die ontwrigting van die Studenteraadsverkiesing op die Tuks-kampus vandag deur die Students Forum skerp veroordeel.
“Die Students Forum wat saamgestel is uit lede van PASMA, SASCO, Die Jong Kommuniste Liga en die ANC het vandag alle perke oorskry,” sê mnr. Jaco Mulder, LPW en VF Plus Leier in Gauteng. “Die Studenteraadsverkiesing word reeds vir meer as 10 jaar deur die VF Plus oorheers. Die ondemokratiese optrede van die Students Forum vandag wys op die totale politieke onvolwassenheid van die groep. Dit laat die rooi ligte flikker vir die toekoms van demokrasie in Suid-Afrika indien die komponent van die jeug hulself soos barbare gedra.”
Die VF Plus volg die weg van vreedsame demokrasie en ondersteun die aksies van die VF Plus-gesinde kandidate.
Die rasgedrewe aanval op die Kampus vandag waar vandalisme en aanrandings aan die orde van die dag was, word met minagting deur die VF Plus verwerp.
Die VF Plus eis dringende optrede deur die Universiteitsowerhede en die Suid-Afrikaanse Polisiediens.
Mnr. Charl Oberholzer, VF Plus-jeugleier op die Kampus, is ook in die proses aangerand en oorweeg kriminele klagtes teen lede van die Students Forum.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





