Sekerheid dat beleggings en eiendomsreg in Suid-Afrika veilig sal wees en hoop dat die regering bereid is om nuut na ekonomiese maatreëls te kyk wat tans groei demp.
Sekerheid geld veral vir buitelandse beleggers, plaaslike mynbesture en Suid-Afrikaanse landbouers wat die afgelope tyd na uitsprake oor die nasionalisering van myne en grond moes luister. Die hofsaak oor die Wal-Mart samesmelting en verwarrende ANC-uitsprake het verder bygedra tot hierdie onsekerheid. 'n Duidelike uitspraak teen nasionalisering en vir eiendomsreg sal sekerheid en vertroue help terugbring.
Die bereidheid van die ANC om die populisme van die Malema-denkendes aan te spreek, bring reeds hoop vir die toekoms. Dit moet in die staatsrede aangevul word met duidelike uitsprake oor nuwe denke ten opsigte van werkskepping en ekonomiese groei.
Die sosialistiese drome waar die regering alleen werk probeer skep en die privaatsektor met wette probeer dwing om dieselfde te doen, is 'n mislukking. Die antwoord lê in groter ekonomiese vryheid vir die privaatsektor en intensiewe infrastruktuurskepping deur die staat. Dit was die wenresep in ander ontwikkelende lande en die president kan hoop skep deur in daardie rigting te beweeg.
As mnr. Zuma alle faksies in die ANC met sy staatsrede gaan probeer paai met die oog op die leiersverkiesing vanjaar in Desember, gaan ons 'n jaar binne met 'n verlamde regering wat geen besluite gaan neem tot na die leiersverkiesing nie. Wat Suid-Afrika nodig het, is 'n regering wat waagmoedig nuut dink en aktiewe leiding neem uit ons ekonomiese probleme uit. Dit behels onder andere nuwe denke oor arbeidswetgewing, regstellende aksie, bemagtiging en infrastruktuurskepping.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





