Mnr. Franco Cancellier (51), bemarkingsbestuurder van 'n Italiaanse maatskappy in Como, is in hegtenis geneem en moes 'n nag in die polisieselle op Alexanderbaai deurbring omdat die immigrasiebeamptes volgehou het dat met sy paspoort gepeuter is.
Selfs ná amptelike briewe uit Italië via die land se konsulaat in Kaapstad om die egtheid van die paspoort te bevestig, moes die trio hoor hulle is nie welkom om Namibië deur Sendelingsdrift binne te gaan nie.
'n Ontstelde mnr. Herman Steyn, 'n sakeman van Welgemoed in Kaapstad met belange in die tekstielbedryf, sê die betrokke immigrasiebeamptes se "wanbestuur van hul gesag" en "hul totaal rassistiese houding en arrogansie" skaad Namibië se beeld in die buiteland. "Vir toeriste om so iets te beleef, is totaal onaanvaarbaar en berokken jul land baie skade," het hy in 'n telefoniese onderhoud uit Kaapstad gesê.
Steyn, sy vrou, Leslie, en Cancellier het op 11 Januarie vir 'n besoek van 12 dae aan Namibië uit Kaapstad vertrek. "Ons drie het 25 jaar gelede ook só 'n toer onderneem en hierdie was 'n herinneringsreis. Ons eerste bestemming was die Visrivier Lodge aan die noordekant van die spoelvallei, wat ons laat besluit het om Namibië deur die grenspos by Oranjemund binne te gaan."
Hy sê hulle is sonder enige probleme deur die grensposte aan die Suid-Afrikaanse en Namibiese kant, maar toe hulle met Namdeb se private pad van Oranjemund na Rosh Pinah wou ry, is hulle meegedeel dat hulle 'n permit moet hê. Dit het die drie gedwing om terug te gaan na Suid-Afrika en die 80 km langs die Oranjerivier na Sendelingsdrift af te lê sodat hulle daar met die pont oor die rivier kon gaan.
"Ons is sonder probleme uit Oranjemund terug na Suid-Afrika en by die Suid-Afrikaanse grenspos by Sendelingsdrift is ons ook sonder enige probleme deurgelaat." Min het hulle egter geweet wat aan die Namibiese kant op hulle gewag het, vertel Steyn.
Hy sê die twee Namibiese immigrasiebeamptes, 'n man en 'n vrou, het nadat hulle Cancellier se paspoort geskandeer het, gesê daar is mee gepeuter en hulle kan hom nie in Namibië toelaat nie. "Ons het verduidelik ons vriend is reeds deur 20 lande, insluitend Namibië vroeër die dag, toegelaat, maar hulle wou niks weet nie. Ons het die idee gekry hulle wag dat ons vir hulle omkoopgeld aanbied, wat ons nie gedoen het nie."
Steyn sê toe hulle weer sien, was daar vyf Namibiese polisiemanne by die grenspos. "Die immigrasiebeamptes en die polisiemanne is toe saam met ons met die pont terug na die Suid-Afrikaanse kant, boonop sonder dat hulle enige paspoorte by hulle gehad het.
"Hier het die situasie vinnig versleg. Die Suid-Afrikaanse immigrasiebeamptes onder leiding van me. Ellison Links wat ons twee ure vroeër vriendelik deurgelaat het, het skielik omgeswaai en met die Namibiërs saamgestem dat daar met die paspoort gepeuter is."
Hy sê in 'n stadium was omtrent veertien polisiemanne en doeanebeamptes van beide lande in die vertrek en die uiteinde was dat Cancellier se paspoort gekonfiskeer is. Hy is summier in hegtenis geneem, agter in 'n vangwa gelaai en na die polisieselle op Alexanderbaai geneem.
Die Steyns het op dié kusdorp in 'n gastehuis oornag en vroeg die volgende oggend die Italiaanse konsulaat in Kaapstad gekontak, wat weer met Italië geskakel het. Twee amptelike briewe later, kon hulle einde ten laaste daarin slaag om hul vriend vrygelaat te kry.
"Omdat sy paspoort deur die Suid-Afrikaners by Sendelingsdrift afgeneem is, moes ons reël dat die paspoort na Alexanderbaai gebring word. Dit was omdat die Suid-Afrikaanse beamptes vir ons gesê het die man aan die Namibiese kant het gesê hy gaan ons nie deurlaat nie en ons moet maar deur Noordoewer ingaan." Volgens Steyn het dit beteken hulle moes 'n draai van nagenoeg 320 km ry.
Mnr. Walderich Tibinyane, toesighouer by die Namibiese grenspos by Sendelingsdrift, het die voorval gister bevestig en gesê die drukwerk op Cancellier se paspoort het 'n "dowwigheid" gewys waar die geslag van die paspoorthouer aangedui word.
Hy sê al rede hoekom die "fout" nooit deur enige ander immigrasiebeampte raakgesien is nie, is omdat "my mense aan diens by die Namibiese kant baie meer opmerksaam is".
Op 'n vraag waarom die trio aangeraai is om Namibië liewer via Noordoewer binne te gaan, het hy geantwoord: "Ek kan nie daarop kommentaar lewer nie. Vra die Suid-Afrikaners (immigrasiebeamptes)."
| < Vorige | Volgende > |
|---|





