Dit is om hierdie rede dat DwoN pas 'n projek bekendgestel het om die gebruik van donkiemelk in Afrikalande te bevorder waar baie donkies voorkom. Samesprekings is reeds met die Namibiese regering, die Universiteit van Namibië en die Universiteit van Molise in Italië gevoer, terwyl dr. Peta Jones, 'n donkiekenner, die projek ondersteun. Volgens hierdie organisasie beskik die vasteland oor meer as 20 miljoen donkies en veel meer kinders en volwassenes wat ondervoed is.
Indien die voedsaamheid van donkiemelk reg bemark word, kan miljoene liter van hierdie melk daagliks gebruik word om in honger mense se voedingsbehoeftes te voorsien. Wetenskaplike navorsing toon donkiemelk is gesonder as koeimelk, lui 'n verklaring hieroor. Dit bevat minder vet, beskik oor 'n hoër persentasie proteïen en bevat meer van die vitamiene wat in melk voorkom. Verder hoef donkiemelk nie gepasteuriseer te word nie. Omdat donkies volop is in landelike gebiede, hoef mense ook nie donkies ten duurste te koop nie.
DwoN sê sy projek behels die bewusmaking van die gesondheidswaarde van donkiemelk en bied demonstrasies aan oor hoe om donkies te melk, terwyl gemeenskappe aangemoedig word om hierdie produk deel van hul daaglikse dieet te maak. Volgens DwoN se verklaring beoog die organisasie om die projek stelselmatig in die hele Suider-Afrika te vestig. Eerw. Edward Amadhila, hoof van die TOV Veeldoelige Sentrum op Tsumeb wat na die onderwys, fisieke en emosionele behoeftes van weeskinders omsien, het sy steun aan die projek toegesê. DwonN het donkies aan die sentrum geskenk sodat die kinders voortaan donkiemelk kan drink.
Die BBC het Vrydagaand 'n onderhoud met Amadhila hieroor in die program "World Service" uitgesaai. DwoN is ses jaar gelede gestig om na die welstand van die honderde duisend donkies in Namibië om te sien. Een van die eerste uitdagings was die groot aantal donkies wat jaarliks padongelukke veroorsaak. Die organisasie beywer hom daarvoor dat donkie-eienaars oorplaatjies vir die diere aanbring wat snags weerkaats sodat motoriste hulle betyds opmerk.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





