Agt-en-vyftig reklameborde wat regoor die land opgerig is om die SAPD se amptelike wenkediens, Stop Misdaad te adverteer, is met 'n fout gedruk. Dit was oor die naweek dat die publiek die fout agtergekom het.
Die Stop Misdaad se 08600 10111 se een nul is op 58 reklameborde weg, en iemand met waardevolle inligting oor kriminele aktiwiteite wat 0860 10111 skakel, sal begroet word met 'n besettoon.
Nasionale polisiewoordvoerder, brigadier Lindela Mashigo, het gesê die polisie het reeds die fout erken en is in gesprek om dit reg te stel. Die veldtog kan die polisie byna 'n driekwartmiljoen rand kos, maar Mashigo sê dat die ander uitsaai-en gedrukte advertensies maak seker dat die publiek weet wat die korrekte nommer vir die blitslyn is.
Die advertensieborde is strategies geplaas in misdaadbrandpunte regoor Suid-Afrika. Een van die mees prominente borde op Graystonrylaan in Sandton sal bly vertoon, en die verlore nul sal ingevoeg word deur middel van plakkate of op 'n ander manier.
Wanneer sal dit gebeur? "So gou as moontlik," sê Mashigo.
Stop Misdaad se nommer: 08600 10111.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





