Daar is op 24 Januarie 2012 wyd berig oor Eugene de Kock wat die Mlangenigesin om vergifnis vra vir die dood van Bheki Mlangeni en die familie wat dit verwerp met die opmerking dat hy in die gevangenis moet vrot.
Dit is uiters belangrik dat die volgende feite in gedagte gehou word en dat die Paroolraad nie beïnvloed word deur sake wat hoegenaamd nie op hierdie saak betrekking het nie.
Eugene de Kock is op 4 Mei 1994 gearresteer en op 30 Oktober 1996 weens moord en verskeie ander misdrywe gevonnis. In die geval van Bheki Mlangeni is hy tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis weens strafbare manslag. Toe hy gevonnis is het hy reeds 2 jaar en 5 maande as verhoorafwagtende in die gevangenis verkeer.
Met die uitsondering van die Nelspruitmoorde en die moord op Japie Maponya het De Kock amnestie vir al die ander moorde, met die inbegrip van die strafbare manslag in die geval van Bheki Mlangeni, gekry. Volgens al die feite sal 'n aansoek om hersiening deur die Hooggeregshof in die geval van Japie Maponya waarskynlik slaag. Dit laat slegs die Nelspruitmoorde oor wat oorweeg behoort te word.
Ofskoon berou nie 'n vereiste vir amnestie is nie en geeneen van die ANC-kaders berou getoon of gevra het vir die terreurdade wat hulle verrig het nie, het Eugene de Kock nadruklik en by herhaling tydens elke amnestieverhoor sy berou uitgespreek en om vergifnis gevra. Die relase van die amnestieverhore sal dit bevestig.
Artikel 20(10) van die Wet op die Bevordering van Nasionale Eenheid en versoening bepaal soos volg:
"Waar iemand skuldig bevind is aan misdryf wat uitgemaak word deur 'n daad of versuim wat met 'n politieke oogmerk in verband staan ten opsigte waarvan amnestie ingevolge hierdie Wet verleen is, word 'n inskrywing of aantekening van die skuldigbevinding geag uit alle amptelike stukke of rekords geskrap te wees en word die skuldigbevinding vir alle doeleindes, met inbegrip van die toepassing van enige Wet van die Parlement of enige ander wet, geag nie plaas te gevind het nie".
Bo en behalwe dat hy amnestie in die geval van Bheki Mlangeni gekry het, het De Kock reeds die 10 jaar gevangenisstraf wat ten opsigte van Mlangeni se dood opgelê is, uitgedien, ofskoon die hof gelas het dat die vonnisse gesamentlik uitgedien moet word. Dit sou derhalwe 'n growwe onreëlmatigheid wees indien die Paroolraad die geval van Bheki Mlangeni sou oorweeg.
Eugene de Kock is gearresteer en verhoor toe alle ondersoeke na soortgelyke misdrywe, met inbegrip van misdrywe wat deur lede van die Nasionale Uitvoerende Raad van die African National Congress gepleeg is, opgeskort is hangende die uitslag van onderhandelinge oor moontlike algemene amnestie. Indien de Kock op dieselfde wyse as lede van die NUK van die ANC gehanteer sou gewees het, sou hy lankal op parool gewees het.
Dit is daarom uiters belangrik dat met die oog op reg en geregtigheid die Paroolraad die parool van Eugene de Kock onbevange en onbevooroordeeld met integriteit en opregtheid sal oorweeg. Die Stigting het geen twyfel dat parool in so 'n geval aan De Kock toegestaan sal word nie.
Die slotgedeelte van die Tussentydse Grondwet lees onder meer soos volg ten opsigte van die verdeeldheid tweespalt en konflik van die verlede:
"Die geleentheid is daar om dit nou reg te stel op die grondslag dat daar 'n behoefte bestaan aan begrip en nie wraaksug nie, 'n behoefte aan herstel en nie vergelding nie, 'n behoefte aan medemenslikheid en nie viktimisering nie."
Dit is bitter jammer dat politieke leiers hierdie aanhaling ruimskoots gebruik as dit om hulle belange gaan, maar wanneer dit oor sake gaan wat werklik daardeur geraak word, dit heeltemal negeer.
J P Botha
Voorsitter – Stigting vir Gelykheid voor die Reg
| < Vorige | Volgende > |
|---|





