Die ANC-Jeugliga het skietgoed in die hande gekry teen die stemme binne die ANC wat Malema wil stilmaak. Hulle beskuldig die ANC daarvan dat die dissiplinêre prosedure gebruik word om politieke geskille te vereffen.
Dit het dié week aan die lig gekom by 'n dissiplinêre appèlkomiteevergadering dat die ANC se hoofaanklaer Uriel Abrahamse 'n e-pos aan sy adjunk, adv. Nomazotsho Memani, geskryf het om te vra dat die appèl voor die ANC se eeufeesvieringe gehoor word om te voorkom dat Julius Malema die verhoog met president Jacob Zuma deel.
Abrahamse het geskryf: "Ek dink ook nie dit is 'n goeie idee om by die ander kant betrokke te raak nie, tensy hulle dit inisieer. Ons ervaring is dat hulle elke geleentheid sal gebruik om vertragings te skep. Hulle doen dit ten einde die appellante 'n kans te gee om by te wees vir die 8 Januarie-program. "
Die Jeugliga is van mening dat hierdie skuif om Malema te verhoed om 'n verhoog met Zuma te deel, 'n bewys van 'n groter politieke komplot is.
Hierdie week het die liga 'n formele klag ingedien by Zuma en die ANC se ander top vyf amptenare - adjunk-president Kgalema Motlanthe, voorsitter Baleka Mbete, sekretaris-generaal Gwede Mantashe, sy adjunk Thandi Modise en tesourier-generaal Mathews Phosa - oor Abrahamse se optrede.
Abrahamse se e-poskorrespondensie is ook aan die Appèlkomitee deurgegee as bewys dat die saak teen hulle polities gemotiveer is.
Die korrespondensie is deur die komitee aanvaar en die adjunk-minister van justisie, Andries Nel, wat die deel van die ANC se vervolgingspan is, het die inhoud van die e-pos bevestig en dat dit deur Abrahamse gestuur was.
Abrahamse beweer dat Luthuli-huis inligting ontvang het dat "die Mopani-streeks-voorsitter en sekretaris in Limpopo, 'n vergadering gereël het twee weke gelede waar hulle Julius genooi het om hulle toe te spreek. Kameraad Cassel Mathale, [Limpopo se premier] was ook teenwoordig en, volgens die verslae wat ons ontvang het, was die agenda basies om hul planne vir massa-mobilisering te bespreek en die ANC-president te ondermyn".
Hy het ook geskryf: "Hulle is besig om T-hemde vir 8 Januarie te druk, met die slagspreuk, 'Kgalema vir president' en hulle probeer om die Jeugliga-strukture te mobiliseer in die hele land ter ondersteuning van hierdie veldtog ".
Abrahamse, 'n oud-UmkonthoweSizwelid is geen vreemdeling van omstredenheid nie. Twee jaar gelede is hy skuldig bevind aan die moord op vier-jaar-oue Gwadiso Belang, tydens 'n skietery in Westdene, Johannesburg. Hy is op 'n aanklag van strafbare manslag skuldig bevind en gevonnis tot vier jaar in die tronk, maar het slegs 10 maande uitgedien. Die res is omskep in korrektiewe toesig.
Abrahamse se e-pos het woede by die geskorsde Jeugligabestuur uitgelok, en hulle vra dat tugstappe teen hom geneem word. Hulle eis ook dat Cyril Ramaphosa, voorsitter van die appèlkomitee, die hulle skorsings as gevolg van politieke inmenging ongedaan maak.
"Artikel 25.2 van die ANC-grondwet verbied dissiplinêre aksies wat bedoel is om politieke punte te skik of wat debat onderdruk in die African National Congress. Die e-poskommunikasie deur Kameraad Uriël is duidelik in stryd met hierdie belangrike beginsel van die ANC en illustreer dat die dissiplinêre verhoor teen die leierskap van die ANC-jeugliga as 'n politieke instrument aangewend word en debat smoor."
Die brief is onderteken deur Sindiso Magaqa.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





