'n Ondersoek is aan die gang na 'n voorval by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus waar 'n student in 'n swembad op die kampus verdrink het.
Die 19-jarige eerstejaarstudent was 'n inwoner van die Ratau-manskoshuis. Die voorval het Saterdag na bewering tydens oriëntering gebeur.
Die student was vir meganiese ingeneurswese geregistreer. Die eerstejaarstudent het in die universiteit se swembad verdrink tydens die jaarlikse vrugtefees – 'n georganiseerde kampusaksie vir nuwe studente om hulself te sosialiseer en vriende te maak.
Die nodige veiligheidsmaatreëls was glo getref en daar was mediese personeel van ER24 onder andere teenwoordig tydens die pretdag. Studente is die geleentheid gegun om na afloop van die dag – wat gepaard gaan met waatlemoene eet en mekaar daarna met die skille te smeer – in die swembad om hulself af te spoel.
Studente wie nie kan swem of wou gebruik maak van die geleentheid nie is die opsie gegun om uit te sit. Na afloop van Ratau se sessie is 'n koptelling gehou, maar daar is geen ongeruimdhede opgemerk nie.
Die liggaam van die jong man is om half 7 die aand deur senior studente gevind wat wou gaan swem het. Die kampusbeskermingsdienste is in kennis gestel, waarna die polisie ontbied is.
Brigadier Thulani Ngubane van die SAPS bevestig dat 'n ondersoek na die omstandighede van die student se dood geloods is. Die familie van die oorledene het gevra dat sy naam nie bekend gemaak word voordat sy ma in kennis van sy afsterwe gestel is nie.
Personeel en kundiges van die universiteit is reeds besig met berading en bystand aan mede-studente en koshuisinwoners.
Professor Herman van Schalkwyk, die rektor van die kampus en die studente-dekaan, professor Rikus Fick, het hulle medelye met die voorval betuig.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





