Shaik wil ook luidens die berig hê R2 miljoen wat hy volgens hom aan Zuma geleen het, moet terugbetaal word.
"Daar is geen kommentaar nie. Die kwessie van die kwytskelding-aansoek is reeds deur die minister van justisie behandel... dit is die enigste kwessie waarop ons kommentaar lewer, nie die ander nie," het Zuma se woordvoerder, Mac Maharaj, Sondag gesê.
Shaik het aan die Sunday Independent-koerant gesê hy is nog nie terugbetaal nie en wil R2 miljoen hê wat hy volgens hom aan Zuma geleen het.
Die aanvanklike lening was een van R2,5 miljoen, wat hoofsaaklik gebruik is vir die onderhoud en skoolgelde van Zuma se kinders. Dié ooreenkoms is deur 'n prokureur opgetrek, het die koerant berig.
Slegs R500 000 is luidens die berig al deur Zuma aan Shaik terugbetaal.
Shaik wil ook sy presidensiële kwytskelding hê. Hy het al meer as drie jaar gelede daarvoor aansoek gedoen.
Hy het gesê hy het nog nie van Zuma gehoor sedert hy president geword het nie, ondanks die feit dat hulle vóór dit in kontak was.
Shaik het aan die koerant gesê hy voel gebruik en in die steek gelaat deur Zuma, wat eens 'n nabye vriend van hom was.
"Noudat Shaik 'n droë put is, is die Guptas die geur. Ek is gebruik en misbruik," het hy gesê.
Hy is besorgd daaroor dat niks nog van sy aansoek om presidensiële kwytskelding gekom het nie en hy vrees sy tyd is besig om op te raak.
Shaik se aansoek word deur die departement van justisie hanteer.
Tlali Tlali, woordvoerder van die departement, het gesê dit sal na die president gestuur word vir sy oorweging.
Op Maart 2009, is Shaik op parool vrygelaat met 'n terminale siekte, maar as gevolg van sy politieke bande het dit gelei tot polemiek en beskuldigings van spesiale behandeling. Hy het toe aansoek gedoen vir 'n presidensiële kwytskelding.
Die Appèlhof sal volgende maand uitspraak lewer na 'n aansoek deur die Demokratiese Alliansie wat die Nasionale Vervolgingsgesag se besluit om Zuma se vervolging stop te sit, uitdaag. Dit hou verband korrupsie en bedrog waarin Shaik ook betrokke was in 2009.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





