praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Nuus Suider-Afrika Nuusmakers 2011: Malema em Madonsela

Nuusmakers 2011: Malema em Madonsela

E-pos Afdruk PDF
Die Nasionale Persklub het Sondag aangekondig dat die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, en die president van die ANC-Jeugliga, Julius Malema, saam as nuusmakers van die jaar vir 2011 aangewys word.

Die Persklub se voorsitter, Yusuf Abramjee, het gesê die twee het meer dikwels as nié die voorblaaie in 2011 oorheers.

"In 2011 was Madonsela die sterkste stem vir goeie regering om administratiewe foute reg te stel," het hy in 'n verklaring gesê.

Madonsela se bevindings oor die omstrede huur van geboue vir die polisiediens het daartoe gelei dat president Jacob Zuma twee ministers afgedank en Bheki Cele, die nasionale polisiekommissaris, geskors het.

"Die impak van haar werk is onskatbaar in die konteks van Suid-Afrika – beide in die private en die openbare sektor – waar korrupsie en wanadministrasie algemeen is. Haar sterk leierskap, tesame met besliste optrede, is 'n groot hulp in die poging om van die land 'n korrupsievrye samelewing te maak," het Abramjee gesê.

Oor Malema het hy gesê: "Of jy hom liefhet en of jy hom haat, Malema se dade, omstrede opmerkings en verskynings het die plaaslike agenda deur die jaar oorheers.

"Nog nooit is 'n land so aangegryp, so verdeel of so byeengebring deur nuus oor een individu nie," het hy gesê.

Malema het plaaslik en internasionaal opskrifte gehaal oor kwessies soos nasionalisering en 'n bewindsverandering in Botswana.

Volgens Abramjee het Floyd Shivambu, woordvoerder van die ANC-Jeugliga, aan die persklub gesê toe hy ingelig is oor die toekenning: "Ons neem nie deel aan enige van hierdie dinge nie. Julle kan voortgaan en geen leier van die ANC-Jeugliga sal betrokke wees nie en geen boodskap sal gestuur word nie. Staak asseblief enige vorm van kommunikasie met die ANC-Jeugliga."

Madonsela het gesê die besluit is vir haar 'n verrassing.

"Ek bedank die Nasionale Persklub vir die erkenning aan die span wat ek gelei het. Dit verseker dat die mense van Suid-Afrika geregtigheid kry wanneer hulle onregverdig deur die regering behandel is en help ook die regering om dienslewering op te skerp," het sy volgens Abramjee gesê.

In vorige jare is president Jacob Zuma, Charlize Theron, Zachie Achmat en die Treatment Action Campaign en Eskom ondermeer as nuusmakers van die jaar aangewys.

Die 2010-louere het aan FIFA-president Sepp Blatter en sportadministrateur Danny Jordaan gegaan.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: