praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Nuus Sake Solidariteit staak saam

Solidariteit staak saam

E-pos Afdruk PDF
Solidariteit-verteenwoordigers van regoor Suid-Afrika het Woensdag tydens ʼn spesiale bedryfsraadvergadering in die metaal- en ingenieursbedryf die 7%-loonaanbod van die Bedingingsraad vir die werkgewers in die Bedingingsraad vir die Metaal- en Ingenieursbedryf (MEIBC) verwerp. Indien die werkgewers nie tydens Vrydag se geskilvergadering ʼn beter loonaanbod maak nie, sal Solidariteit kennis gee van ʼn staking.

Volgens Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, het die vakbond lank besin voor hy op dié stap besluit het, aangesien dit ʼn groot impak op die bedryf sal hê indien Solidariteit se lede, meestal geskoolde werknemers en ambagslui met skaars vaardighede, sou staak.

"Loononderhandelinge is ook aan die basiese ekonomiese beginsel van die wisselwerking tussen vraag en aanbod onderwerp," verduidelik Hermann. "Daar is tans ʼn reuse-vaardigheidstekort in Suid-Afrika ten opsigte van geskoolde werknemers en ambagslui. Indien die vraag na ʼn produk styg, styg die prys daarvan en dieselfde beginsel behoort te geld vir die vergoeding van werknemers met skaars vaardighede," volgens Hermann.

Intussen het Solidariteit beklemtoon dat sy lede nie die werk van stakende werknemers sal doen nie.

Solidariteit verteenwoordig nagenoeg 27 000 werknemers in die metaal- en ingenieursbedryf.

Die vakbond het egter Woensdag ná die vierde rondte van loononderhandelinge in die goudsektor van die Kamer van Mynwese, ʼn loongeskil verklaar. AngloGold Ashanti en Goldfields het vandag ʼn algemene loonaanbod van 5,5% vir kategorie 3-werknemers en ʼn loonverhoging van 5% vir kategorie 4- tot 8-werknemers, asook ambagsmanne, myners en amptenare, aangebied. Harmony en Rand Uranium het ʼn loonverhoging van 5,3% vir kategorie 3-werknemers en 4,8% vir kategorie 4- tot 8-werknemers en ambagsmanne, myners en amptenare aangebied.

Volgens Louis Pretorius, woordvoerder van Solidariteit, beteken die werkgewers se verbeterde loonaanbod niks. Werkgewers het in die derde rondte ʼn loonaanbod van ʼn algemene loonverhoging van 5% vir kategorie 3-werknemers en 4,5% vir die kategorie 4- tot 8-werknemers asook ambagsmanne, myners en amptenare gemaak. "Vandag se aanbod, van skaars ʼn halwe persentasiepunt meer, is niks anders as klatergoud nie," meen Pretorius. "Teen die pas wat loononderhandelinge nou vorder, is ʼn loonooreenkoms beslis nog nie naastenby in sig nie," voeg hy by.

Intussen is die aanbod vir die uitleeftoelaag steeds nie verbeter nie en werkgewers bied steeds slegs ʼn R50-verhoging aan. Daar is ook nog nie aan Solidariteit se eis, dat die aftreeouderdom van bogrondse werkers na 63 jaar verhoog word, gehoor gegee nie.

Die geskilrondte vir die steenkoolsektor is vir 20 Julie geskeduleer.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: