Die Black Management Forum (BMF) se onttrekking uit Besigheidseenheid Suid-Afrika (BUSA) op grond daarvan dat die swart organisasie (BMF) se stemme 'n minderheid vorm, spreek volgens die Vryheidsfront Plus van dubbele standaarde. "Daar word gereeld daarop gewys dat Afrikaners en ander minderhede nie 'n sê het in landsake nie juis omdat hulle nie 'n meerderheid kan vorm binne 'n simplistiese demokratiese bestel nie.
Nou weet die BMF presies hoe dit voel om aan die ontvangkant te wees van die tirannie van die meerderheid in 'n stelsel waar geen voorsiening vir minderheidsregte gemaak word nie.
Dalk moet die BMF sy benadering begin verander deur te vra vir 'n nuwe akkoord tussen die meerderheid en die minderheid van die land waar eersgenoemde minderheidsregte op politieke vlak erken en die minderheid op sy beurt weer sistematies en volhoubaar betrokke raak by die ontwikkeling van die ekonomies agtergeblewe gemeenskappe," het adv. Anton Alberts, VF Plus-parlementêre woordvoerder oor ekonomiese sake, gesê.
"Gegewe die swart meerderheid se obsessie met demografiese verteenwoordiging op alle vlakke van die samelewing, is dit volgens die VF Plus tog net logies en billik dat minderhede ook 'n permanente kwota op alle regeringsvlakke moet hê. Is dit dan nie die ander kant van die munt van meerderheidsverteenwoordiging nie? 'n Nuwe akkoord kan juis lei tot die verbreding van die welwillendheid van die minderheid en voortgesette ekonomiese emansipasie van die swart meerderheid," het Alberts bygevoeg.
Intussen moet die BMF nie kla as die demokratiese beginsel wat hulle toepas om Afrikaners en ander minderhede te ontneem van besluitreg op hulle politieke toekoms, ook vir hulle negatief uitwerk in 'n ander forum soos BUSA nie.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





