“Die nuutste uitsprake van mnr. Julius Malema oor nasionalisering van Suid-Afrikaanse besighede, nie net myne nie, kan die ekonomie ernstige skade berokken deur buitelandse beleggers af te skrik en plaaslike sakevertroue te ondermyn. Die Vryheidsfront Plus gaan dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier en adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye versoek om die party se bekommernis hieroor na die Kabinet te neem,” het dr. Conrad Beyers, hoofwoordvoerder oor Finansies vir die Vryheidsfront Plus gesê.
Volgens die weekblad Rapport het Malema tydens ‘n dinee op Nelspruit uitsprake gemaak wat daarop neerkom dat alle besighede in Suid-Afrika met wit aandeelhouding ‘n teiken vir nasionalisering kan word.
“Malema se uitsprake eskaleer nou verder deurdat nasionalisering nie net op myne van toepassing is nie, maar op die totale ekonomie. Sodanige stappe sal ‘n katastrofiese uitwerking op die ekonomie hê, net soos wat in Zimbabwe onder leiding van Malema se held Mugabe gebeur het,” het Beyers bygevoeg.
In die mynbedryf begin Malema se uitsprake reeds sy tol eis. In ‘n peiling (deur die Kanadese Fraser Institute se Policy Potential Index) onder die hoofde van sowat 3 000 mynboumaatskappye het meer as 80% aangedui dat besorgdheid oor die rigting wat die regering met sy mynbeleid inslaan ‘n faktor is wat hulle van beleggings in Suid-Afrika afskrik. Sedert 2009 het Suid-Afrika se posisie as ‘n bestemming vir mynboubeleggings afgeskuif vanaf 49ste posisie tot 67ste posisie uit 79 gebiede.
Nasionalisering van die meerderheidsaandele in talle Suid-Afrikaanse besighede en die gepaardgaande ekonomiese ineenstorting sal tot massiewe werkloosheid in die land lei. Dit kan tot politieke onstabiliteit en selfs Egipte-tipe opstande in Suid-Afrika lei.
“Die VF Plus is besorg daaroor dat mense soos Malema juis wil sien dat die ekonomie vernietig word ten einde die land te destabiliseer. Malema se radikale ideologie van rassehaat weeg vir hom swaarder as die daarstel van ‘n vreedsame, suksesvolle land.
In Suid-Afrika, met sy komplekse en kwesbare sosiale struktuur, is dit maklik vir radikaliste om die vreedsame naasbestaan wat met groot moeite oor ‘n lang tyd heen opgebou is, af te breek. Daarom het dit tyd geword dat koelkoppe wat die land se belange op die hart dra – beide binne en buite die regering – hul stem moet dik maak teen rassistiese radikaliste soos Julius Malema en Jimmy Manyi”.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





