praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Nuus Sake VF Plus soek 'kleiner' regering

VF Plus soek 'kleiner' regering

E-pos Afdruk PDF

Die Vryheidsfront Plus het gesê dat ’n “groot, sosialistiese regering” in Suid-Afrika te duur asook onvolhoubaar vir die land se krimpende belastingbasis word.  Die VF Plus het ook gesê dat hoë belasting en oor-ambisieuse sosiale programme, probleme soos werkloosheid en korrupsie fasiliteer.

Die VF Plus het die verklaring gemaak in die lig van mnr. Pravin Gordhan, minister van Finansies, se begrotingstoespraak wat op Woensdag 23 Februarie gehou sal word.

Die party hoop om beduidende belastingverligting vir individue asook besighede te sien ten einde verbruikersbesteding en werkskepping te help stimuleer.  Die huidige hoë belasting is besig om die tipe besigheidsinisiatief wat nodig is om permanente, volhoubare werk te skep, te vernietig. Hoë individuele belasting wat gebruik word om inkomstetoelaes aan miljoene werkloses te subsidieer dra ook by tot laer verbruikersbesteding en daarmee saam ‘n swakker ekonomie.

Volgens die VF Plus se woordvoerder oor Finansies, dr. Conrad Beyers, moet die spiraal van verhoogde en vrugtelose regeringsbesteding op onvolhoubare sosiale programme verbreek word.

“Inkomstetoelaes aan miljoene werkloses moedig werkloosheid aan en skep ‘n kultuur van afhanklikheid van die staat. Dit plaas ook ‘n enorme finansiële las op belastingbetalers en die ekonomie as ‘n geheel. Ons behoort eerder daarop te fokus om meer besteebare inkomste in verbruikers se sakke te plaas en om sodoende die ekonomie te help groei. Deur die ekonomie te herstel, sal volhoubare werk geskep word wat tot verdere groei kan lei," het Beyers gesê.

Die VF Plus het gesê dat die regering se huidige benadering van duur, staatsgedrewe werkskeppingsinisiatiewe wat deur swart ekonomiese bemagtiging gedryf word, nóg effektief, nóg volhoubaar is. Hierdie multimiljoen-inisiatiewe bevoordeel slegs die bevoorregte swart elite, terwyl die werklose massas, vir wie dit bedoel is, tipies geen voordeel daaruit trek nie.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: