praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Nuus Sake Werkloosheid oorsaak van sosiale verval
Werkloosheid oorsaak van sosiale verval PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur praag   
Vrydag, 11 Februarie 2011 08:21
Die Vryheidsfront Plus het gesê dat werkloosheid nie net armes se probleem is nie, maar dat dit alle Suid-Afrikaners affekteer omdat dit onderliggend is aan misdaad en ander sosiale probleme in die land. Die party het gesê dat dit in alle Suid-Afrikaners, hetsy wit of swart, arm of ryk, se belang is dat hierdie fundamentele probleem die hoogste prioriteit vorm van die regering se beleidsrigtings en inisiatiewe.

Werkloosheid erodeer die sosiale onderbou van die Suid-Afrikaanse samelewing, soos stabiele gesinne en gemeenskappe, en het die geneigdheid om soos 'n kruipende woestyn ook die werkende deel van die samelewing oor tyd heen aan te tas.

Volgens dr. Conrad Beyers, VF Plus-hoofwoordvoerder oor finansies, is sosialistiese regeringsbeleid die hoofoorsaak van die werkloosheidsprobleem.

"Die regering se sosialistiese beleid van basiese inkomste-toelaes, asook verskeie ander toelaes, skep 'n kultuur van afhanklikheid en dit smoor die insentief om te werk. Die regering se striemende arbeidsbeleid soos BEE hou talle potensiële besighede, wat werk kan skep, kunsmatig uit die ekonomie. Verder word buitelandse beleggers afgeskrik deur die regerende party se gevaarlike flirtasie met die idee van nasionalisering," het Beyers gesê.

Die land se werkloosheidsyfer (uitgebreide definisie) staan tans op 35.8%. Statistiek Suid-Afrika (SSA) vererger die probleem deur 'n kunsmatige en eng definisie vir werkloosheid te gebruik en om op grond daarvan te sê dat werkloosheid verminder het (volgens SSA se nuutste syfers).

Die land se werkloosheidsprobleem gaan nie opgelos word deur mense wat opgehou het om werk te soek net eenvoudig nie meer as werkloos te beskou nie. Ekonome beskou SSA se definisie van werkloosheid as twyfelagtig. Suid-Afrika se werkloosheid is die hoogste van die 61 lande wie se werkloosheid deur die nuusdiens Bloomberg gemonitor word. Die arbeidsmag het in die vierde kwartaal met 207 000 op 'n jaargrondslag tot 17,3 miljoen gekrimp.

Die VF Plus het gesê dat dit onvolhoubaar is dat die krimpende belastingbasis die regering se sosialistiese programme, wat werkloosheid vererger, moet befonds.


blog comments powered by Disqus
 


Verwante artikels: