praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Nuus Sake Aksieplan met China onderteken

Aksieplan met China onderteken

E-pos Afdruk PDF
'n Landbou-ooreenkoms en gesamentlike Aksieplan is gister in Pretoria tussen die Suid-Afrikaanse Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en die Departement van Landbou van die Chinese Volksrepubliek onderteken.

Dit het gevolg na 'n bilaterale gesprek gister tussen dr. Pieter Mulder, adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye en mnr. Wei Chaoan, Senior Vise-Minister van die Chinese Departement van Landbou. Die twee ministers is bygestaan deur senior amptenare van hulle departemente.

Die ondertekening van die gesamentlike Aksieplan volg op samesprekings wat in Augustus in Beijing tussen me. Tina Joemat-Pettersson, Suid-Afrikaanse minister van Landbou, Bosbou en Visserye en haar Chinese ampsgenoot, minister Han Changfu, gehou is. 'n Gesamentlike werkskomitee tussen die twee lande het na aanleiding van hierdie gesprek tussen die ministers die Aksieplan opgestel.

Die Aksieplan omskryf die verdere samewerking tussen Suid-Afrika en China ten opsigte van die vestiging van akwa-kultuur projekte in Suid-Afrika. Dit maak ook voorsiening vir die opbou van sekere skaars vaardighede in Suid-Afrika deur dit moontlik te maak vir Suid-Afrikaanse studente om onderwerpe soos akwa-kultuur in China nagraads en tot op doktorale vlak te kan studeer.

Omdat Suid-Afrika in die Suidelike- en China in die Noordelike halfrond val, verskil die landbouseisoene van die twee lande. Dit maak dat die beskikbaarheid van sekere landbouprodukte aanvullend en nie kompeterend tot mekaar is nie. In die gesprek tussen die twee adjunkministers is dit as moontlike prioriteit vir toekomstige onderhandelinge en ooreenkomste uitgelig.

Die Chinese vise-minister en sy afvaardiging word vanaand deur me. Tina Joemat-Pettersson, Suid-Afrikaanse minister van Landbou, Bosbou en Visserye, in Kaapstad onthaal.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: