Waar die minister vroeër vanjaar 'n groeikoers van 2,3% vir Suid-Afrika voorspel het, is die groeikoers vooruitsigte nou na 'n 3% groeikoers aangepas. Dit is positief en dui aan hoe die land stadig uit die resessie begin beweeg. Om egter 5 miljoen nuwe werksgeleenthede in die volgende tien jaar te skep, soos die minister onderneem het, is 'n groeikoers van 6% nodig. In die minister se toespraak was daar geen aanduidings hoe die groeikoers van 3% na 6% gaan verdubbel ten einde hierdie doelwitte te bereik nie.
Die minister maak voorsiening vir die 7,6% salarisaanpassing van die staatsdiens na vroeër vanjaar se staking. Waar 'n salarisverhoging hoër as die inflasiekoers is, moet dit gepaard gaan met groter produktiwiteit om te verhoed dat dit inflasie aanblaas en tot 'n afskaling van die hoeveelheid poste lei. Die vraag is of die staatsdiens se produktiwiteit gaan verhoog. As dit nie gebeur nie, sal die hoeveelheid poste verminder moet word ten einde te verhoed dat staatsuitgawes op salarisse onnodig styg. In hierdie opsig word die beoogde maatreëls om korrupsie in die staatsdiens te beveg asook die pogings om die onnodige groei van die staatsdiens deur onnodige administratiewe personeel te beperk, verwelkom.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





