Lede van die Nasionale Unie van Metaalwerkers van Suid-Afrika (Numsa), wat by vulstasies, werkswinkels en motorhandelaars werk, het vandag begin staak, het 'n vakbondwoordvoerder gesê.
"Niks het verander nie. Die staking gaan voort," het Numsa se woordvoerder Castro Ngobese aan die Suid-Afrikaanse Persassosiasie gesê.
Hy het verklaar dit is onmoontlik om te sê hoeveel lede betrokke is, maar het verduidelik die vakbond beskik oor 70 000 lede regoor die land. Hulle werk as pompjoggies, of in werkswinkels, handelaars en ingenieursondernemings, onder andere.
Gesprekke word voortgesit met die Motorkleinhandelaarsnywerheid en Brandstofkleinhandelaarsvereniging om die dooiepunt op te los.
"Gesprekke word vanaand [Woensdag] voortgesit," het Ngobese gesê.
Numsa se eise sluit 'n 20%-loonverhoging oor die hele spektrum in, asook 'n 40-uurweek, met volledige betaling.
Die vakbond wil 'n eenjaarooreenkoms in plek gestel hê wat op 1 September 2010begin, en eindig op 30 Junie 2011.
"Ons eise aan die RMI, en FRA is in ooreenstemming met die African National Congress se verkiesingsverpligtinge rondom die skep van ordentlike werk en 'n volhoubare lewensbestaan vir die werkers en die armes," het die vakbond in 'n verklaring Dinsdag gesê.
'n Optog sou plaasvind in Bellville in die Wes-Kaap waar 'n memorandum van eise aan die RMI oorhandig sal word.
Die brandstofkleinhandelaars (FRA) se uitvoerende hoof Reggie Sibiya het gister gesê die gaping tussen wat dit kan aanbied en Numsa se eise was "te groot".
Hy het gesê dat hulle 'n "reuseloonaanpassing" van 68% in 2007 ingevoer het om die bedryf in ooreenstemming met minimumloonverwagtinge te bring.
Dit is gevolg deur bo-inflasiestygings in 2008 en 2009. Terwyl die staking volgens berigte diens by petrolstasies sou beïnvloed, het Sibiya gesê geen vulstasies sal gesluit word nie.
"Nie almal is deel van die vakbond nie, dus sal garages nie toemaak nie."Hy het gesê die FRA het 'n ooreenkoms met die vakbond onderteken om intimidasie en viktimisering te voorkom.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





