China het skaars Japan as die land met die tweede grootste ekonomie ter wêreld ingehaal, of die vraag word gevra wanneer die land agter die bamboesgordyn ook die Amerikaanse ekonomie as die grootste in die wêreld gaan verbysteek.
Ekonome het blykbaar min twyfel dat dit net ‘n kwessie van tyd is voor dit gebeur, die vraag is net oor wanneer.
Die konsensus is dat dit nie te gou sal wees nie, en in elk geval nie sommer binne twintig jaar nie.
Die VSA se ekonomie beloop net minder as $15 triljoen, terwyl die Chinese $5,4 triljoen beloop. Indien die Chinese egter teen net meer as 12 % per jaar groei, en dié van die VSA teen 2 %, sal China Uncle Sam oor ‘n dekade onder die stof loop. Dis egter onwaarskynlik, met die Chinese ekonomie wat nou teen net onder die 10 % groei, en dié van die VSA teen ‘n verwagte 3,8 % vanjaar. China sal na verwagting toenemend onder internasionale druk verkeer ten opsigte van die gebruik van skoner energie, asook die regte van werkers. Dit kan die groeitempo laat hik.
Maar selfs al sou die Chinese die VSA verbysteek, is Amerikaanse ekonome baie seker dat die Chinese se lewenstandaard nie naastenby met dié van die VSA vergelyk sal kan word nie. – Verwerk uit Christian Science Monitor.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





