Suid-Afrika het volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) se arbeidsmagpeiling altesaam 1,102 miljoen poste verloor sedert begin verlede jaar – 870 000 in 2009, 'n bykomende 171 000 in die eerste kwartaal en die jongste 61 000 poste in die tweede kwartaal.
Die werklike werkloosheidskoers het in die tweede kwartaal egter gestyg van net onder 40% tot 41%, volgens die Buro vir Marknavorsing aan Unisa. Die Buro gebruik uitsetsyfers in die verskillende ekonomiese sektore om werkloosheid te meet.
Prof. Carel van Aardt, direkteur van die Buro sê die Amps-syfers (wat deur die advertensiebedryf vir bemarking gebruik word) wys dat die werkloosheidsyfer nóg hoër is, op 63%.
Veral werkloosheid onder jeugdiges het in dié kwartaal tot meer as 50% gestyg na 51,3% in die ouderdomsgroep 15 tot 24 jaar.
Alhoewel die formele sektor 129 000 poste verloor het , het die informele sektor 5,7% meer mense in diens geneem, wat 115 000 poste beteken.
Landbou het met 32 000 werkgeleenthede prysgegee en werkgeleenthede in privaathuishoudings het met 14 000 gedaal.
Van Aardt het aan Sake24 gesê die groei in die informele sektor is eintlik net mense wat 'n ekonomiese aktiwiteit noodgedwonge moet aanpak om te probeer oorleef.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





