Volgens Piet le Roux, senior ekonomiese navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), is Zuma se afwysing van nasionalisering ten gunste van ʼn sogenaamde "gemengde ekonomie" rede tot verdere kommer oor die toekoms van die mynbedryf.
"Sekerheid oor eiendomsreg is ʼn hoeksteen van ʼn vreedsame en voorspoedige samelewing. Wat die president met ʼn gemengde ekonomie in gedagte het, ondermyn eiendomsreg en is dus ʼn wesenlike bedreiging vir die welvaart van feitlik alle Suid-Afrikaners.
"Die huidige idee van ʼn gemengde ekonomie is waarskynlik geïnspireer deur die skynbare staatsgeleide groei oor die laaste paar jaar in voormalig kommunistiese lande soos China. Ons is egter bekommerd dat die ANC en die president van mening is dat daardie groei te danke is aan staatsinmenging, terwyl die verbeteringe in daardie lande in werklikheid te danke is aan die vermindering van staatsinmenging sedert belangrike vryemarkhervormings sedert die laat 1970's daar ingestel is."
Volgens Le Roux is dit nie verbasend dat die ANC-kommissie, wat ondersoek na staatsinmenging in die minerale sektor (SIMS) moes instel, in sy voorlopige verslag afsien van direkte nasionalisering nie.
"Dié beleidsposisie bied egter geen gronde vir gerustheid nie. Die onderliggende intervensionistiese denke wat tot die oproep om nasionalisering – en nou die sogenaamde gemengde ekonomie – aanleiding gegee het, is steeds ewe aanwesig by die ANC. Die SIMS-verslag bevind immers, soos ons voorspel het, dat nasionalisering maar net een instrument is waarmee die ANC sy doelwitte kan bereik.
"Boonop is minerale hulpbronne, soos die SIMS-verslag ook erken, reeds met die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne van 2002 genasionaliseer. Dit bied die nodige hefboom waarmee omvattende staatsinmenging in die mynbedryf kan en reeds geskied. Die voorgestelde versmelting van BBSEB-, staat- en vakbondeienaarskap in ʼn sogenaamde enkele "special purpose vehicle"-eienaarsgroep, met ʼn minimum gesamentlike stemgeregtigde eienaarskap van 30% in mynmaatskappye vir BBSEB-aandeelhouers en die staat, is ʼn aanduiding van sodanige verdere staatsinmenging en bied rede tot kommer."
Die SNI het gedurende die afgelope ses maande twee studies oor die nasionaliseringskwessie onderneem. Die eerste studie, getiteld Building on no foundation – the logical incoherence of nationalisation and its interventionism, is reeds verlede jaar by die betrokke ANC-kommissie ingedien. (Klik hier om die verslag te lees.)
In dié studie is voorspel dat die ANC-kommissie nasionalisering waarskynlik sal verwerp, maar in die plek daarvan steeds iets sal aanbeveel wat nie wesenlik daarvan verskil nie:
"Terwyl dit voorkom asof die SIMS-kommissie waarskynlik nie nasionalisering sal aanbeveel nie, kan dit – gegewe sy opdrag, wat vir intervensionistiese voorstelle vra – nie besware teen nasionalisering opper buiten dié wat op tegniese aspekte gebaseer is nie. Terwyl die ANC wél moontlik ag mag slaan op sodanige besware, bly dit waarskynlik dat nasionalisering slegs verwerp sal word ten gunste van iets wat nie wesenlik daarvan verskil nie. In hierdie opsig is dit dan juis gepas dat die kommissie se navorsingsprogram die Staatsinmenging in die Minerale Sektor-projek heet," lui die verslag.
Die SNI het ook gewaarsku teen die ANC-kommissie se oppervlakkige, tegniese benadering tot die ondersoek in plaas daarvan om die saak in beginsel te ondersoek:
"Om direk na tegniese punte te spring, is om die risiko te loop van eindelose debatte oor verskillende vorme van nasionalisering – of dit nou positiewe resultate inhou al dan nie ‒ pleks dat gevra word of intervensionisme (waarvan nasionalisering maar net een voorbeeld is) ʼn blywende antwoord bied op probleme in die samelewing. Só ʼn tegniese nasionaliseringdebat sal nie die ANC-jeugliga of Solidariteit se besorgdhede aanspreek nie en ook nie meer helderheid aan die ANC bied oor sommige van die mees fundamentele vraagstukke oor die aard van die samelewing en óf en hóé die waargenome eienskappe daarvan beïnvloed kan word nie."
Volgens Gideon du Plessis, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, behoort hierdie studie ʼn belangrike verwysingspunt te vorm in die debat oor nasionalisering en staatsinmenging in die Suid-Afrikaanse ekonomie.
In ʼn tweede studie, wat op Donderdag, 16 Februarie deur die SNI uitgereik gaan word, wys die SNI op van die voordele van die privaat mynbedryf vir werknemers, aandeelhouers en verbruikers.
"In ʼn tydvak waarin nasionaliseringspraatjies algemeen is en waarin die eienaars van kapitaal dikwels onnadenkend gekritiseer word, is dit nie ongewoon om af te kom op ʼn besonder negatiewe hantering van die mynbedryf nie. Blootstelling aan hierdie sentimente mag ʼn waarnemer dalk onder die indruk bring dat die mynbedryf slegs ʼn klein aantal reeds baie ryk eienaars bevoordeel – terwyl dit andersins verantwoordelik is vir ongelykheid, te min werksgeleenthede, omgewingsvernietiging, ʼn ondermyning van gemeenskapslewenskragtigheid en ʼn lang lys ander probleme.
"Maar so ʼn eensydige en dikwels onakkurate benadering verberg die moderniserende en welvaartskeppende effek van ʼn bedryf waarop ʼn groot deel van ons moderne lewenstandaard rus. Omdat Solidariteit glo dat verhoudinge tussen werkgewers in die mynbedryf en mynwerkers wedersyds voordelig kan wees, het die SNI ʼn kort studie onderneem om te dien as herinnering aan die voordele van die mynbedryf."
| < Vorige | Volgende > |
|---|





