Viccy Baker, van Red Gekko Ontwerp en Branding Solutions in Johannesburg, bedryf die webwerf Retail Price Watch waarin pryse van ongeveer 10 000 produkte gelys word.
Hulle navorsers bestudeer pryse by spesifieke winkels en verbruikers kan dan pryse aanlyn vergelyk.
Baker het advies ingewin voordat sy webwerf opgerig het en gevind dat daar geen wetlike rede is waarom sy dit nie kan doen nie, veral omdat maatskappye self pryse op hul eie webwerwe vertoon.
Sy het nogtans besluit om toestemming om dit te doen van Woolworths te vra maar dit is geweier.
Twee navorsers is daarna op 13 Januarie gevra om die Fourways-winkelsentrum te verlaat.
Zyda Rylands, Woolworths se besturende direkteur van voedsel, het gesê hoewel die winkel graag krities belangrike prysprojekte wil akkommodeer wat deur statutêre liggame uitgevoer word, verkies hulle om toe te laat dat hul takke fokus op handel.
"Ons gebruik 'n diens wat pryse vergelyk in die kleinsakebedryf en Gekko kan ook inskryf daarvoor as hulle wil," het sy gesê.
Sy het gesê dat Woolworths-produkte nie direk vergelykbaar met dié van ander kettingwinkels is nie.
"Ons is byvoorbeeld die enigste groep wat regte plaaseiers verkoop . Dit is effens duurder. Dit is dus nie moontlik om Woolworths te vergelyk met dié in die res van die mark nie," het sy gesê.
Bykans al Woolworths se ander produkte wat vergelykbaar is met dié van ander kettingwinkels, is baie duurder sê verskeie verbuikers.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





