praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Nuus Sake Stellenbosch móét Afrikaans bly!

Stellenbosch móét Afrikaans bly!

E-pos Afdruk PDF

Die Vryheidsfront Plus ondersteun die aankondiging van oud-studente van die Universiteit van Stellenbosch en verskeie toonaangewende burgerlike organisasies dat hulle teen die universiteitsbestuur gaan optree weens die stelselmatige afskaling van Afrikaans as primêre onderrigtaal aan die universiteit.

Volgens adv. Anton Alberts, VF Plus-parlementêre woordvoerder oor hoër onderwys, is die afskaling van Afrikaans in beide basiese onderwys by skole en in die hoër onderwys by universiteite nou besig om krisisafmetings aan te neem.

"Afrikaanse skole het sedert 1994 van nagenoeg 2000 tot minder as 300 verminder terwyl Afrikaans by tradisionele Afrikaanse universiteite met rasseskrede verminder of uitgefaseer is. Vandag is die voormalige RAU getransformeer tot 'n Engelstalige 'UJ' en Stellenbosch is op dieselfde pad," het Alberts gesê.

"Ek was self 'n student by die voormalige RAU en dit is hartseer om te sien hoe die Afrikaanse taal en etos uit die instelling gehaal is. Ek is tans ook 'n meestersgraadstudent aan die Universiteit van Stellenbosch en op hierdie vlak van onderrig is daar min Afrikaanse onderrig te bespeur.

Die probleem lê egter nie by individuele fakulteite of dosente nie, maar by die universiteit se bestuur wat nie deur befondsing en die skep van institusionele strukture Afrikaanse onderrig ondersteun nie. By Stellenbosch is dit des te meer skandelik omdat dit die een Afrikaanse universiteit is wat hom in Suid-Afrika midde in 'n Afrikaanse meerderheidsdemografie bevind," het Alberts bygevoeg.

Die VF Plus ondersteun steeds die aanbevelings van die Gerwel-kommissie dat daar ten minste een primêre Afrikaanse universiteit in die Noorde van die land moet wees en een in die Suide. "Die regering is dit aan die Afrikaanssprekendes verskuldig.

Die ANC het onlangs regsreëls die lig laat sien wat die kultuurgoedere van inheemse gemeenskappe beskerm deur wysigings te maak aan verskeie intellektuele eiendomsregwette.

Indien hierdie logika verder gevoer word, moet die regering ook immers kultuurgroepe self beskerm en so ook hul taal wat, onder andere, die draer is van kulturele uitdrukking en oordrag. Daarom gaan die VF Plus weereens hierdie saak onder die aandag van die minister van hoër onderwys bring," het Alberts gesê.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: