praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Nuus Sake Infrastruktuurbesteding eerder as verbruik, sê Gordhan

Infrastruktuurbesteding eerder as verbruik, sê Gordhan

E-pos Afdruk PDF

Pravin Gordhan, minister van finansies, het met die bekendmaking van die mediumtermynbegrotingsraamwerk gesê die nasionale tesourie het ongeveer R13 miljard minder belastinginkomste ingevorder as wat in Februarie met die Begrotingsrede verklaar is.

Gordhan het voorts gesê dat besteding van verbruik na beleggings en infrastruktuur- en ekonomiese ontwikkeling sal moet verskuif. Die minister kon nie sê watter sektore daarby gaan baat nie. Die sektore waarop die staat wil fokus, sal glo in samewerking met die departement van handel en nywerheid uitgewerk word.

Volgens die nasionale tesourie sal dié betrokke sektore in volgende jaar se begroting bekend gemaak word.

Hy het ook R25 miljard oor die volgende ses jaar opsygesit om sukkelende sektore in die ekonomie te steun. Kontantreserwes en besparings sal vir sukkelektore aangewend word, het hy gesê. Staatsdepartemente is daarom versoek om onnodige verkwisting te staak.

"Persepsies dat die regering en sy amptenare 'groot' leef ondermyn vertroue. Vermorsing met openbare besteding moet uitgeskakel word."

Gordhan het gesê dié aansporings sal nie met nuwe belastings gefinansier word nie.

Wysigings aan die wet op die bestuur van openbare finansies sal moontlik aangebring word om openbare amptenare glo "verantwoordbaar" te hou. Die ministerie het nie kommentaar gelewer op die bestaande wetgewing wat reeds voorsiening maak vir strawwe nie.

Daar sal vir die komende nasionale gesondheidsversekeringstelsel ook R500 miljoen opsy gesit word vir loodsprojekte in 10 distrikte, om openbare gesondheidsorg te verbeter. Die program sal oor 14 jaar strek om beter en bekostigbare gesondheidsorg te verseker.

Besnoeiings in staatsdepartemente sal aangewend word om 'n beleidsreserwefonds op te bou. Die besnoeiings sal waarskynlik meer as R10 miljard beloop. Meer besonderhede sal glo in die 2012-begroting bekend gemaak word.

Voorstelle aan die kabinet oor hoe om die reserwefonds te bestee, sal deur die ministerskomitee oor die begroting gemaak word.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: