Gill Marcus, hoof van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, het Woensdag in die parlement gesê kontant bly koning in Suid-Afrika.
Die gebruik van tjeks in transaksies daal skerp, maar kredietkaarte bly nog belangrik.
Sy het gesê Suid-Afrika asook Suider Afrika bly nogtans 'n kontant-ekonomie met toenames in die vraag na die rand in lande soos Zimbabwe, Angola en Tanzanië.
Die vraag na veral R5-munte het drasties toegeneem nadat Zimbabwe besluit het om die rand en dollar as nie-amptelike geldeenhede aan te neem. Die Zimbawiese dollar is tot niet vanweë wegholinflasie.
Die R5-munt is gewild omdat Zimbabwiërs onder geweldige armoede gebuk gaan.
Alhoewel Zimbabwe nie formeel deel van die gemeenskaplike monetêre gebied (GMG) is nie, is daar ná die ineenstorting van hul geldeenheid besluit om die rand te aanvaar tesame met die Amerikaanse dollar.
Die GMG bepaal egter dat die rand die enkel-geldeenheid in lande soos Suid-Afrika, Lesotho en Namibië is.
Die Reserwebank het tans ongeveer R75 miljard se note in sirkulasie en die vraag na kontant groei teen 8% ondanks die ekonomiese omstandighede, het Marcus gesê.
"'n Paar jaar gelede het die vraag na kontant teen 12% gegroei, maar toe was die ekonomiese toestande beter," het sy bygevoeg.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





