praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Nuus Sake Swart handelaar smyt R15 miljard weg

Swart handelaar smyt R15 miljard weg

E-pos Afdruk PDF
Kweku Adoboli

‘n Jong, swart handelaar, Kweku Adoboli, is Vrydag in Londen in hegtenis geneem nadat hy die Switserse bank UBS verliese van $2 miljard (R15 miljard) toegedien het. Hy word ook verdink van bedrog en die verdoeseling van verliese wat tot 2008 terug te voer is.

Adoboli, die 31-jarige seun van ‘n voormalige VN-diplomaat wat van Ghana afkomstig is, is as ‘n “opkomende handelaar” in die glanswêreld van Londense aksepbanke beskryf. Hy het duur partytjies vir sy vriende gegee en was tot Vrydag die direkteur van UBS se Delta-een-lessenaar waar finansiële risiko namens kliënte op die markte geneem word.

Die kolossale verlies het die stad van Londen, waar die finansiële bedryf gesetel is, in ‘n nuwe krisis gedompel ná die bankbankrotskappe van die afgelope tyd wat deur belastingbetalers gedra moes word. Politieke partye in Switserland eis reeds dat Switserse banke hul aksepbankbedrywighede moet staak. Indien UBS sy askepbank in Londen sou sluit, sou dit werksverliese vir tot 6 000 mense beteken.

Ook die bank se risikobestuurstelsels staan onder verdenking omdat die jong Ghanese pierewaaier daarin kon slaag om miljarde onder die bank se neus te verloor en weg te steek sonder dat rekenmeesters of die bestuur dit kon agterkom.

Dit wil voorkom asof Adoboli posisies in die valutamark geneem het, wat teen hom beweeg het toe die Switserse sentrale bank besluit het om in te meng ten einde die Switserse frank se oormatige sterkte te verminder. Op Facebook het hy enkele dae gelede geskryf dat hy ‘n “wonderwerk nodig het”, wat sou impliseer dat sy posisies diep in die moeilikheid was.

UBS het gewaarsku dat die verlies die bank se algehele winste vir die huidige kwartaal mag uitwis. In ‘n memorandum het die uitvoerende beampte van die bank, Oswald Grübel, aan werknemers gesê: “Ons verstaan dat u reeds geruime tyd ongunstige, volatiele, markte moes trotseer. Terwyl die nuus kommerwekkend is, sal dit nie die fundamentele sterkte van ons firma beïnvloed nie.” UBS beskik oor meer as $50 miljard aan aandeelhouersefondse, dus sal die verlies van twee miljard nie die bank se balansstaat noemenswaardig raak nie.

Blykbaar het UBS slegs die ongemagtigde transaksies teen 12.00 Woensdag ontdek en twaalf uur later die polisie se hulp ingeroep om Adoboli aan te kla en te arresteer. Volgens die Londense Guardian bestaan daar onder andere drie klagte teen die Ghanees-gebore handelaar, naamlik dat hy verliese met beursverhandelde fondse tussen Oktober 2008 en Desember 2009 verdoesel het, asook tydens ‘n tweede periode tussen Januarie 2010 en September 2011. ‘n Derde klag het betrekking op die bedrog wat hy tussen Januarie 2011 en September 2011 sou gepleeg het terwyl hy senior handelaar in globale sintetiese aandele was.

Sedert sy inhegtenisname Donderdag omstreeks 15.30 by sy luuksehuis in Shoreditch, aan die rand van die Londense finansiële buurt, word Adoboli deur Kingsley Napley verteenwoordig, dieselfde regsfirma as die berugte Nick Leeson wat Barings-bank se ondergang met sy ongemagtigde termynbeurstransaksies veroorsaak het. Die firma het nog nie ‘n verklaring uitgereik of bekendgemaak hoe Adoboli op die klagte gaan pleit nie.

Volgens die polisie in die stad van Londen, gaan hulle ondersoek voort, in “noue samewerking” met die Britse Finansiële Dienste-owerheid, asook die Kantoor vir Ernstige Bedrog en die Kroon-aanklagdiens.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: