Pravin Gordhan, minister van finansies, het Woensdag die tesourie se jongste munisipale oorsigverslag in die parlement bekendgestel. Hy het munisipaliteite berispe oor hul geldmorsery en gekla oor "militante" belastingbetalersunies wat dienstegeld weerhou.
Die verslag toon dat R27 miljard tussen die 2009 tot 2010 gespaar kon gewees het deur onnodige uitgawes te besnoei.
Jaarlikse meningsopnames het getoon dat die helfte van landsburgers geen vertroue meer in hul plaaslike regerings het om noodsaaklike dienste te lewer nie.
Meer as 'n honderd diensleweringsoptogte is in 2010 gehou. Dit is die meeste sedert 2004. Daar is ook 'n merkbare toename in die aantal "militante" belastingbetalerverenigings wat dienstegeld weerhou, het hy gesê.
Intussen het personeelaanwas tussen 2006 en 2009 met 4% toegeneem, maar munisipaliteite se salarisrekening in dieselfde tydperk het in sekere gevalle met 52% gestyg. Munisipale bestuurders by distriksrade se salarisse is "buitensporig hoog", lui die verslag.
Die oorsigverslag dui aan waarop munisipaliteite sal moet besnoei. Duur motors en selfone, borgskappe, kos, weelderige kantore, asook buitelandse reise en konsultante word gelys as "oorbodig" en kan 'n besparing van 15% aan uitgawes meebring.
"Los die uitspattighede en kry jul beplanning, begrotings, dienslewering en burokrasie reg," het Gordhan Woensdag tydens 'n parlementêre inligtingsessie gesê.
Meer mense het die afgelope drie boekjare toegang tot noodsaaklike dienste soos water, elektrisiteit en vullisverwydering verkry, maar die vertroue tussen belastingbetalers en plaaslike regering is glo die "grootste struikelblok".
Die instandhoudingsagterstand in water-infrastruktuur alleen beloop R13 miljard. Paaie- en elektrisiteitsnetwerke se herstel is ook agter, het die minister gesê. Agterstallige munisipale skuld was teen Desember tot R62,3 miljard opgehoop. Dit verteenwoordig 'n toename van 10% vergeleke met die vorige jaar.
Gordhan het gesê die fiskus verkeer onder druk weens die ekonomiese onsekerhede en nuwe raadslede moet van sulke "fieterjasies" afsien.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





