praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Nuus Internasionale nuus Wat om uit Nederland en België se regeringsamestelling te verwag

Wat om uit Nederland en België se regeringsamestelling te verwag

E-pos Afdruk PDF
Nederland se vervroegde algemene verkiesing het reeds byna twee maande gelede – op 9 Junie – plaasgevind, en die Belgiese kort hierna.

Beide is gekenmerk deur die sterk opkoms van wat in Suid-Afrikaanse terme as regse partye beskou kan word. In die geval van Nederland, die opkoms van Gert Wilders se PVV, en in België van 'n party wat sterker standpunt inneem oor 'n onafhanklike Vlaandere.

Sedert 9 Junie word Nederland deur 'n oorgangskabinet regeer. Dié Kabinet bestaan uit die oorblyfsels van die voor-verkiesingskoalisie nadat die Partij van de Arbeid reeds voor die verkiesing uitgestap het. Die oorblywende partye, die groter Christen-Demokratiese Appèl en die kleiner ChristenUnie het beide swaar verliese gelei. Die CU word nie eens as 'n moontlike koalisievenoot in enige moontlike kombinasie genoem nie.

Die CDA het lank, blykbaar vrywillig, in die koue bly staan terwyl die fasiliteerders wat deur die monarg aangewys is koalisievennote probeer vind het en 'n werkbare kabinet uitgetimmer kon kry. Uiteindelik het die CDA weer toegetree, en die samesprekings behels nou die daarstel van 'n regse kabinet, bestaande uit die CDA, die PVV en die VVD.

Sou dié samesprekings slaag is daar dadelik 'n probleem, naamlik dat dit 'n minderheidskabinet sal wees. Elkeen van hierdie partye sal egter op van die klein partye se steun kan reken, soos die CDA wat op die CU en ander Christenpartye se steun sal kan reken ... maar teen 'n prys.

In dié stadium stem die potensiële regse koalisievennote oor belangrike sake saam, soos strenger immigrasiewetgewing. Die CDA en die VVD wil die begroting hokslaan, terwyl Wilders 'n klein tekort op die begroting nie te onaardig vind nie.

Die PVV en VVD stel meer in grootskaalse kernkrag as in groen energie, en spesifiek windenergie belang. Die rede is om Nederland so gou as moontlik onafhanklik van die invoer van kernenergie te maak.

Die uiteindelike daarstelling van 'n koalisiekabinet kan nog lank duur. Wanneer die partye mekaar genoegsaam gevind het, word oorgegaan tot die daarstel van 'n lywige koalisie-beleidsdokument, wat aan Kodesa herinner.

In België gaan dit nie veel vinniger nie. In die proses om 'n federale regering daar te stel word daar op die oomblik ook nie veel gehoor van Vlaamse afskeiding nie, maar dit sal stellig anders daaruit sien as regeringsvorming op nasionale vlak afgehandel is, en die aandag na die regeerbaarheid van die Vlaamse regering verskuif.

Van buite gesien lyk dit egter of die Nederlanders en Belge in die verkiesing hul voorkeure vir sekere opsies uitdruk, maar dat daar in die praktyk min daarvan in die regeringsamestelling gereflekteer word, en nog minder in die koalisiekabinet se regeerbeginsels. Dit is die prys wat hierdie lande bereid is om te betaal om te verhinder dat een party so allesoorheersend word dat verkiesings bloot die bevestiging van daardie party se voortgesette mag sal wees.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: