praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Nuus Internasionale nuus Wikileaks stel Pentagon in die verleentheid

Wikileaks stel Pentagon in die verleentheid

E-pos Afdruk PDF
Getuienis van Amerikaanse oorlogsmisdade wat die afgelope paar dae op die internet gepubliseer is, maak wêreldwyd opspraak.

Die Pentagon hou asem op vir die duisende memo's wat die werf verder bekend wil maak.

Julian Assange, die stigter van die webwerf Wikileaks, het gesê die 92 000 hoogsgeheime items wat hy tot dusver vrygestel het, is "net die oppervlak" van wat hy in sy besit het. Hy beweer hy het tasbare bewyse van oorlogmisdade.

Assange het gesê hy het 'n verdere 15 000 dokumente wat hy in die komende weke sal publiseer en dat hy hoop dit sal lei tot "vervolging van die mense wat misdrywe gepleeg het."

Assange het een van die grootste lekkasies van geklassifiseerde materiaal in die geskiedenis veroorsaak toe hy aan verskeie koerante Amerikaanse militêre dokumente wat sensitiewe inligting bevat oor burgerlike slagoffers in Afghanistan en die aktiwiteite van 'n geheime "swart ops"-eenheid wat verantwoordelik is vir sluipmoorde op Taliban bevelvoerders, deurgegee het.

Sommige aksies is glo uitgevoer deur die Britse magte. NAVO-geleide koalisielede het intussen die vrees uitgespreek dat die lekkasie lewens in gevaar gestel het.

Die Pentagon het nou begin met 'n skoonmaakaksie om die verdagte netwerk van militêre personeel wat agter die lek kan wees, uit te snuffel.

Die man wat die materiaal aan Wikileaks deurgegee het is Bradley Manning, 'n 22-jaar oue Amerikaanse leërintelligensie-ontleder wat vroeër hierdie jaar in hegtenis geneem is, maar hy het vermoedelik medepligtiges.

Volgens bronne het Manning nie die "tegniese kundigheid" om soveel inligting na die buitewêreld te kommunikeer nie.

Gister het die Wit Huis gesukkel om die internasionale gevolge van die lekkasies, wat hulle as "onverantwoordelik" beskryf het, te bekamp.

Senator John Kerry, voorsitter van die invloedryke Senaatskomitee oor buitelandse betrekkinge, het gesê die lekkasies hou "ernstige vrae oor die realiteit van Amerika se beleid teenoor Pakistan en Afghanistan" in.

Assange het Maandag 'n perskonferensie in Londen gehou en beweer dat die mees sensitiewe dokumente nog moet kom.

Die vrystelling van die dokumente kom nadat die Afghaanse regering beweer het dat 52 burgerlikes, waaronder vroue en kinders, gesterf het tydens 'n NAVO-aanval verlede week wat 'n dorp in die suide van Afghanistan in puin gelê het.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: