Walmart is in die spervuur nadat hulle die prys van 'n swart Barbiepop gesny het sodat dit byna die helfte van 'n wit pop kos.
Die afslagprys van die swart pop is $3.00, terwyl die wit pop steeds teen die volle prys verhandel van $5.93.
Benewens hul velkleur wat ooglopend verskil, lyk die poppe verder identies.
'n Woordvoerder van Walmart, Melissa O'Brien, sê die prysverlaging is om van oortollige ou voorraad ontslae te raak om plek te maak vir die lentevoorraad wat op die rakke moet kom.
O'Brien sê hopelik verkoop die pop fluks teen die afslagprys. Verskillende prysaanbiedinge is deel van inventarisbestuur in die kleinhandel, het sy gesê.
Swart kritici sê egter Walmart moet meer sensitief wees oor hulle verlagings omdat sulke verlagings die swart pop devalueer.
Sosioloë wat oor die aangeleentheid genader is, dra kennis van talle sulke voorbeelde. Die verminderde koste van swart poppe is glo te wyte daaraan dat swart kinders wit poppe verkies.
Wit ouers sal nooit 'n swart pop oorweeg nie, terwyl swart ouers dit maklikers sal doen, het een gesê.
"Good Morning America" het na Obama se inhuldiging 'n opname gedoen en bevind dat die helfte van swart kinders wat voor 'n keuse gestel word, 'n wit pop verkies.
Al die kinders, wit en swart, was dit egter eens dat die wit poppe "mooier" is toe hulle daarna gevra is.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





