praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Nuus Internasionale nuus Osama se bykomende rol as paaiboelie

Osama se bykomende rol as paaiboelie

E-pos Afdruk PDF

Om enige Amerikaner se aandag vas te vang, noem net Al Kaïda of Osama bin Laden, al is dit eintlik iets anders waaroor ‘n mens ‘n stelling wil maak.

Dit is ook nou die indruk wat geskep word uit die voordrag oor terreurbedreigings wat die CIA se direkteur, Leon Panetta en ander intelligensiehoës voor die Amerikaanse Kongres.

Niemand sal betwyfel dat Al Kaïda ‘n bedreiging inhou nie, en dat die waarskuwing dat so ‘n aanval in die volgende drie tot ses maande verwag kan word, nie, maar die tipe aanval wat verwag word is skynbaar nie meer die groot probleem nie.

Die skade wat kuberterroriste kan aanrig, is skynbaar veel erger.

Maar om op hierdie gevaar te wys en skadebeheer toe te pas op pres. Barack Obama se voorgestelde besnoeiings in die Homeland Security se Kuber-afdeling, moet ‘n bedreiging voorgehou word wat die taal van die politici praat.

En dit is Al Kaïda en Osama, veral aangevuur nadat die Nigeriër, Umar Farouk Abdulmutullab op Kersdag ‘n vliegtuig in vlug van Amsterdam na Detroit met gesofistikeerde plofstof probeer opblaas het.

Dit help ook dat Abdulmuullab volgens die intelligensievoorlegging soos ‘n kanarie sing. Dit gee geloofwaardigheid aan enige aansprake. Die skietorgie van die militêre sielkundige by Fort Hood, maj. Nidal Hassan, help ook om die Kongres en publiek se aandag vasgevang te hou van ‘n bedreiging uit radikale Islam-oorde.

Weens die intensiewe intelligensieveldtog om Al Kaïda te neutraliseer, is dit nou bykans onmoontlik vir ‘n goed-opgeleide terroiris om met enige beduidende soort plofstof op ‘n plek te beland waar hy kan skade aanrig.

Daarom, waarsku Panetta, sal dit ‘n “skoon” terroris wees wat baie kort aan opleiding blootgestel was sodat die intelligensieagentskappe hom nog nie kon “optel” nie, en sy wapens sal nuut-geïmproviseerd wees. Die uiteindelike terreurdaad sal ook gouer uitgevoer word, ook om te keer dat die intelligensie-agentskappe tyd het om die spoor te vat.

Om veilig te wees, meen die CIA egter ook ‘n terroris sal baie goed opgelei moet wees om met meer gesofistikeerde plofstof te kan werk as dit wat Abdulmutllab aan boord gesmokkel het. Hierdie soort plofstof, meen die CIA, behoort nou deur nuwe intelligensie-inligting en verbeterde sekuriteit nie weer ‘n bedreiging in te hou nie.

Maar die minder goed opgeleide wat nou wesenlike gevaar inhou, is ‘n tipiese “alleenlopende wolf.” Baie van hulle sal “tuisvervaardigde ekstremiste” wees wat deur Al Kaïda bearbei word om terreur te pleeg.

Dit is egter die potensiaal van kuberaanvalle wat nou die grootste bedreiging inhou. Dit kan massiewe infratrukturele skade tot gevolg hê, en dit kan die wêreldekonomie in ‘n warboel laat ontaard – alles veilig agter ‘n rekenaarskerm baie ver van die teikengebiede. Dit kan, in kort, die gerekenariseerde del van die wêreld tot stilstand bring.

Obama het beloof om hierdie bedreiging ernstiger op te neem, maar toe in die prakyk begrotingsbesnoeiings by die bekampers aanbeveel.

Nou word Al Kaïda benewens sy werklike bedreiging, ook as paaiboelie gebruik om die kuberbedreiging te kan hoklslaan.

Bron: Verwerk en bygewerk uit ‘n Montana Standard-artikel


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: