praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Nuus Internasionale nuus Identiese vierling 'n wonderwerk sê Duitsers

Identiese vierling 'n wonderwerk sê Duitsers

E-pos Afdruk PDF
Dokters by 'n kliniek in die ooste van Duitsland het die geboorte van die vier identiese meisies beskryf as 'n wonderwerk. Laura, Sophie, Jasmin en Kim was 10 weke prematuur, maar dokters by die Universiteitskliniek van Leipzig sê hulle het 'n goeie kans op oorlewing. Hulle is uit 'n natuurlike swangerskap gebore mbv 'n keisersnee.

Elkeen van die meisies het ongeveer 1000 gram by geboorte geweeg op 6 Januarie en sal by die vroeggebore baba-eenheid bly totdat hulle hul geskeduleerde datum van geboorte bereik. Verloskundige professor Holger Stephan sê die 31-jaar-ou moeder se toestand is uitstekend.

Identiese vierlinge is baie skaars. Stephan sê die kanse is een in 13 miljoen. "Dit is baie onwaarskynlik dat vierlinge natuurlik voorkom en dan nog voortgaan om te ontwikkel tot gesonde babas." Identiese vierlinge word gevorm wanneer 'n bevrugte eiersel verdeel in vier kort na bevrugting. Die embrio ontwikkel in aparte amniotiese sakke en deel dieselfde plasenta.

Doctor Walter Klockenbusch van die Universiteitskliniek in Munster in die noorde van Duitsland is dit eens dat identiese vierlinge uiters skaars is: "Die natuur maak gewoonlik nie voorsiening vir geboortes soos dié nie." Klockenbusch het viertalgeboortes twee of drie keer tydens sy 20 jaar by die kliniek teëgekom, maar nie een van hulle identies nie.

Daar is geen rekords van identiese vierlinge by Duitsland se ABC-klub nie, 'n organisasie vir gesinne met meervoudige geboortes, van drielinge en meer. Dit is moontlik dat dit die eerste van sy soort in Duitsland is," sê Hartmut Hartleb, die klub se president.

"Dis 'n wonderwerk dat die meervoudige-swangerskap tot die 28ste week sonder enige probleme gevorder het," sê Stephan. Die laaste vierlinge wat by die kliniek in Leipzig gebore is, was in 1976. Die moeder van die identiese vierlinge het 10 kg gewig tydens haar swangerskap opgetel en was heeltemal gesond tot te veel vrugwater opgebou het en die grootte van haar maag 'n bron van kommer begin raak het.

"Die ma woon naby die kliniek en sy het 'n paar uur voor die kinders gebore is, ingeteken," sê Stephan. Dokters by die kliniek het besluit om 'n keisersnee uit te voer. Die eerste kind, Laura, is gebore op 09:45 en die laaste vyf minute later. Die ouers sê hulle identiese kinders is "sensasioneel" volgens Stephan. Die ma is 'n haarkapper en die pa het onlangs' n groot kar gekoop en die meisies se kamer klaar versier.

Die burgemeester van Leipzig, het besluit om die kinders te borg. "Ek is baie bly dat almal in goeie gesondheid verkeer, en ek wens die gesin alles van die beste," sê Burkhard Jung, wat self pa van vier kinders is. Jung beplan om die familie te besoek om hulle met 500 euro te help en hulp van Leipzig se owerhede aan te bied. Die Universiteitskliniek van Leipzig het aangebied om te betaal vir die doeke vir die volgende paar jaar.

Die nuut-gebore meisies het 'n vyf-jaar-oue broer. Hy kan skaars sy susters van mekaar onderskei, net soos hulle verloskundige. "Hulle is absoluut identies," sê Stephan. Laura is die oudste en Kim die jongste, maar sy is die sterkste van die vier en het 1100 gram by geboorte geweeg. Die tweede om gebore te word, Sophie, was net onder 1000 gram. "Dit is ongelooflik hoe goed hulle die geboorte oorleef het," sê Stephan.

Afgesien van die verwagte probleme wat die meeste premature babas het, verkeer die vier meisies in 'n goeie toestand en byna almal van hulle organe werk normaalweg. "Hul longe het 'n bietjie hulp nodig gehad." Drie van die meisies kan al grotendeels asemhaal op hul eie, terwyl die vierde meisie ventilatorondersteuning nodig het.

Stephan was die moeder se verloskundige van die begin af en hy sê hy beplan om kontak met die familie te hou: "So iets gebeur net een keer in jou loopbaan."


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: