Aanvalle, aanhoudings en onwettige plofstof en wapens - baie gesmokkel uit Libië - teister tans Tsjad, Mali, Mauritanië, Niger, Nigerië en hul buurlande, volgens 'n VN-sending na die Sahel-streek om verslag te doen oor die veiligheidsnagevolge na die moord op afgesette staatshoof Moeammar Gadaffi.
Vrese vir terrorisme en swak sekuriteit het die ondersoek genoop. Die VN-verslag het gesê Niger het sy verdedigingsbegroting met 65 persent opgestoot en gesondheids- en onderwysuitgawes ly daaronder as gevolg van die bedreiging wat toegeneem het.
Regerings vermoed dat wapens uit Libië deur voormalige Libiese soldate en huursoldate uitgesmokkel word en die streek oorspoel.
Volgens die verslag het Niger onlangs 'n konvooi onderskep van 645 kilogram Semtex-plofstof en 445 slagdoppies. Niger se owerhede "beweer dat die plofstof bedoel is vir Al-Kaida in die Islamitiese Magreb se kampe in die noorde van Mali.
"Die beslaglegging kan daarop dui dat terroristegroepe wapens en plofstof van Libiese militêre voorraadstore verkry."
"Sommige van die wapens kan versteek word in die woestyn en kan verkoop word aan terroristegroepe soos Al-Kaida in die Islamitiese Magreb, Boko Haram, of ander kriminele organisasies," sê die groep, wat deur die VN-verteenwoordiger vir die Wes-Afrika, Said Djinnit gelei word.
Die sending het gesê Boko Haram, word vir 185 sterftes in die Nigeriese stad Kano verlede naweek, 'n selfmoordbomaanval teen die VN-hoofkwartier in Abuja in Augustus verlede jaar en talle ander aanvalle verantwoordelik gehou en word beskou as 'n groeiende bedreiging buite Nigerië.
"Sy teenwoordigheid is 'n bron van kommer in die meeste lande in die streek. In Niger is de radikalisering van die jeug veral 'n probleem in die suide, waar gespreksgenote sê Boko Haram is aktief in die verspreiding van sy ideologie en propaganda, en in sommige gevalle, het hulle daarin geslaag om die sluiting van openbare skole af te dwing," sê die verslag.
"Die verteenwoordigers is ook ingelig dat die Boko Haram bande met Al-Kaida het in die Islamitiese Magreb en dat sommige van sy lede van Nigerië en Tsjad opleiding ontvang het in kampe in Mali in die somer van 2011."
Sewe Boko Haram lede is in hegtenis geneem waar hulle deur Niger na Mali gereis het met materiaal vir die maak van plofstowwe en met kontakbesonderhede van Al-Kaida in die Islamitiese Magreb, sê die VN-sending.
Ministers van Mali, Mauritanië, Niger en Algerië het in die Mauritaniese hoofstad, Nouakchott, hierdie week byeengekom in 'n poging om samewerking te versterk.
Die plofbare toestand het reeds humanitêre pogings in die Sahellande swaar getref. Hulpagentskappe het immuniserings- en voedselprogramme opgeskort vir baie van die "kwesbare gemeenskappe," het die VN-verslag gesê.
In sommige gebiede is die humanitêre vakuum gevul deur Al-Kaida in die Islamitiese Magreb en/of kriminele elemente wat, na wat berig word, dienste en humanitêre hulp in afgeleë gebiede bied waar die teenwoordigheid van die staat nie sigbaar is nie of nie bestaan nie," sê die verslag.
Dit help Al-Kaida in die Islamitiese Magreb om volgelinge te werf en netwerke te stig om inligting en wapens in te samel, sê die VN.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





