praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Nuus Internasionale nuus 'Naweek van terreur' eis byna 200

'Naweek van terreur' eis byna 200

E-pos Afdruk PDF
Minstens 11 mense het Sondag gesterf in nóg aanvalle in die noorde van Nigerië, waarna die dodetal van die naweek minstens 191 is.

Bomontploffings kort na mekaar het twee dae vroeër die gebied geruk.

Volgens beamptes het gewapende mans twee kerke en 'n polisie-kontrolepunt Sondag in die dorp Tafawa Balewa geteiken.

Dit is nog nie duidelik of die aanvalle deur militante van Boko Haram geloods is, of deur plaaslike inwoners wat in etniese konflik betrokke is nie.

Vyf lede van die radikale Islamistiese sekte Boko Haram is Sondag in die olieryke stad Port Harcourt in hegtenis geneem. Intelligensiebeamptes sê hulle wou sekuriteitsbeamptes en olie-aanlegte aanval.

Die naweek se geweld is die ergste nóg wat aan Boko Haram toegeskryf kan word. Die groep het ook verantwoordelikheid aanvaar vir bomontploffings op Kersdag verlede jaar en 'n aanval in Augustus op die VN-hoofkantoor in Abuja.

Die groep het Saterdag gesê die vorige dag se aanvalle in die noordelike stad Kano, waarin minstens 180 mense dood is, wraakaanvalle was "teen die regering, die wetstoepassers en die Christelike Vereniging van Nigerië, want hulle het ons geslag".

President Goodluck Jonathan het Sondag die aanvalle veroordeel. "Dit is met 'n hart vol hartseer en pyn wat ek my medelye uitspreek teenoor die families en vriende van almal wat hul lewens verloor het," het hy namens die regering gesê en bygevoeg dat die regering nie met "gevoude arms" sal toekyk nie.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: