Hongaarse premier Orbán het net wat nodig is gedoen om binne 'n paar jaar sy land om te keer na 'n nasionalistiese eenheid. Openbare vryhede en persvryheid is in toom gehou, die demokratiese skeiding van magte nietig verklaar, en 'n grondwet in die gees van die land se voormalige nasionalistiese leier Miklós Horthy, is deurgevoer.
Hongarye is tans om daardie rede polities geïsoleer in die Europese Unie, en op die rand van nasionale insolvensie. Brussel sien Orbán se grondwetlike hervorming as 'n skending van EU-wetgewing, en 'n bedreiging vir ekonomiese hulp. Dit is des te meer 'n merkwaardige ontwikkeling vir 'n land wat eers gesien is as 'n model vir hervorming, om nagestreef te word deur ander lande in die streek.
Orbán self, 'n eertydse gesiene politikus, lyk nou soos 'n bedenklike mengsel van Wladimir Poetin en Hugo Chavez sê kritici. En dit omdat hy sy eie mense eerste stel.
Maar die klein politikus uit die klein noordwestelike Hongaarse dorpie van Alcsútdoboz is geensins 'n spesiale geval nie. Orban en Hongarye verteenwoordig 'n politieke beweging wat oor die sentrale en suidelike dele van Europa vlamgevat het.
Dis 'n vuur wat woed met die brandhout wat die euro-krisis verskaf het: Die vernietigende gevolge van 2008 se internasionale finansiële krisis in Oos-Europa, die finansiële en ekonomiese wanbalanse, gespartel met skuld, hoë begrotingstekorte, resessies en werkloosheid.
Maar dit is nie net die brose ekonomieë wat sukkel nie. Baie sentrale en suidelike Europese samelewings se politieke en sosiale stabiliteit vertoon 'n ander dinamika as in die Weste. Hierdie gebiede het twee dekades van ononderbroke hervormings agter die rug. Baie inwoners is ideologies uitgeput deur die EU se mooipratery, en die weersin teenoor Weste is aan die styg.
"In baie opsigte is dit 'n proses soortgelyk aan die ontnugtering met sosialisme in die 1970's en 1980's in Oos-Europa," sê die Hongaarse ekonoom László Lengyel. Die antwoord daarop is nasionalisme in gebiede soos dié in die ooste van Pole, Slowakye en Hongarye.
Hongarye is 'n les in die tragedie van samelewings in oorgang. Die elites in die staatsapparaat en die ekonomie is nooit vervang nadat die kommuniste vrywillig mag afgestaan het nie en die veelgeroemde vreedsame rewolusie van 1989-1990, was eintlik in die oë van die kiesers, 'n suiwer gekonkel.
Na 'n kort tydperk van euforie oor die einde van die sogenaamde diktatuur, het 'n klein groepie van die ou-nuwe elite hulself verryk met die dikwels twyfelagtige, kriminele privatisering van voormalige openbare eiendom, en die res van die bevolking daarmee gedwing om ekonomiese en sosiale skokterapie te ondergaan.
Hongarye was die eerste Oos-Europese slagoffer van globalisering, toe baie buitelandse maatskappye verder oos beweeg het. Groot dele van die land se ekonomie, soos die landbou en voedselindustrieë, was te onderontwikkel om die land se toetrede tot die Europese Unie in 2004 te oorleef.
Tussen 2002 en 2010 is nie een van Hongarye se dringende probleme opgelos nie, en dit het aan Orban en sy regse nasionalistiese FIDESZ hulle oorweldigende tweederde verkiesingsoorwinning in April 2010 besorg.
Die EU verloor reeds aansien in Oos-Europa. Van die Baltiese state tot Bulgarye, is daar skaars 'n Oos-Europese land wat werklik by EU-projekte inval. In die Tsjeggiese Republiek was president Vaclav Klaus nog altyd teen die EU. Onlangs het die stryd oor die EU-fiskale pakt daar gelei tot 'n regeringskrisis.
In Estland, is weersin aan die groei teen die koste van euroskuld. Na die oorwinning in Maart van die populistiese Robert Fico, het die land weer 'n regse leier. Roemenië se populistiese Traian Bsescu ondersteun die Verenigde State, eerder as die EU. Intussen het daar onlangs gewelddadige botsings met veiligheidsmagte in Boekarest teen sy regering se soberheidsmaatreëls uitgebreek.
Slegs Pole, die grootste onder die EU se Oos-Europese lande, is nog agter wat hierdie tendens betref. Die nasionalistiese reg en geregtigheid party (PIS) was nog nie in staat om 'n verkiesing te wen sedert 2007 nie, en in die mees onlangse parlementêre verkiesings in Oktober 2011, het die meerderheid ten gunste van "pragmatiese", pro-Europese kandidate gestem.
Die voorbeeld van Hongarye toon waarheen hierdie verlies van vertroue in die pan-Europese instellings kan lei: Behalwe Orban se populistiese Fidesz party, staan die ver-regse Beweging vir 'n beter Hongarye, Jobbik, met 17 persent van die stemme in die 2010 verkiesing sterk tweede.
Byna twee-derdes van die Hongare is van mening dat die invloed van die Jode te groot is in die ekonomie, en dat die Roma het 'n genetiese vatbaarheid vir kriminaliteit toon.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





