Die Amerikaanse sekretaris van buitelandse sake, Hillary Rodham Clinton, het hierdie week oor die stand van demokratiese vooruitgang in Wes-Afrika besin na 'n intense jaar van diplomasie na aanleiding van die Arabiese Lente.
In talle Wes-Afrikalande is groot dele van hulle bevolkings Moslem. Die toestand in Nigerië bly gespanne na die tweede week van geweld oor hoë brandstofpryse, wat deur die onderskeie godsdiensgroepe asook kriminele uitgebuit is.
Pres. Goodluck Jonathan het in 'n TV-uitsending aangekondig dat die brandstofprys verlaag sal word in 'n poging om die dreigende burgeroorlog in sy land hok te slaan.
Die hele streek se pogings met veelparty-regerings en die oppergesag van die reg het gekom met rukke en stote, en dikwels op die rug van politieke geweld.
In Liberië, is Ellen Johnson Sirleaf vir 'n tweede termyn verkies, tydens 'n stemmery wat waarskynlik vry en regverdig verklaar sou gewees het as die leier van die opposisie nie 'n boikot uitgeroep het, en Sirleaf gedwing het om onbestrede te staan nie.
Clinton het Maandag Sirleaf se inhuldigingseremonie bygewoon en haar sterk ondersteuning aangebied. Die Amerikaanse sekretaris ontmoet Dinsdag die presidente van die Ivoorkus en Togo, en die Eerste Minister van die Kaap Verde.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





