Volgens berigte in Iran is Moestafa Ahmadi Roshan en sy bestuurder Woensdag in 'n ontploffing gedood nadat twee verdagtes op 'n motorfiets 'n kleefmyn aan Roshan se motor geheg het.
Roshan was 'n chemikus en direkteur van die Natanzuraanverrykingsaanleg, die grootste in sy soort in dié land.
Sy moord word beskou as 'n aanduiding dat daar toenemende geheime pogings is om Iran se kernprogram te stuit.
Die sluipmoord op Roshan volg op 'n jaar van hernude spanning in betrekkinge tussen Iran en die VSA. Dit sluit in nuwe Amerikaanse sanksies teen Iran, dreigemente om Amerikaanse skepe uit die Persiese Golf te verbied, die doodstraf wat Iran vroeër vandeesweek aan 'n Amerikaanse burger opgelê het en die uitbreiding van Iran se uraanverrykingsprogram.
Amerikaanse amptenare het Donderdag gesê hulle het niks met Roshan se dood te make gehad nie.
"Ek ontken ten sterkste dat Amerika enigsins betrokke is by enige voorval van geweld in Iran," het die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Hillary Clinton, hier gesê.
"Ons glo daar moet 'n verstandhouding wees tussen Iran, sy buurlande en die internasionale gemeenskap vir die beëindiging van sy uitdagende gedrag, om sy soeke na kernwapens te staak en weer 'n produktiewe lid van die internasionale gemeenskap te word."
Die moord op Roshan was 'n dag nadat Israel se militêre hoof, lt.genl. Benny Gantz, luidens berigte aan 'n parlementêre komitee gesê het 2012 gaan deurslaggewend vir Iran wees, deels as gevolg van "onnatuurlike dinge wat met hom gaan gebeur".
Ander Israelse amptenare het gesinspeel op geheime operasies teen Iran sonder om dit regstreeks te erken.
"Baie slegte dinge het onlangs met Iran gebeur," het Mickey Segal, ouddirekteur van die Israelse weermag se Iranse intelligensiedepartement, gesê.
Iranse amptenare het Israel die skuld gegee.
Die moord op Roshan is soortgelyk aan vroeëre moorde op wetenskaplikes wat aan Iran se uraanverrykingsprogram gewerk het.
Iran blameer die Mossad van Israel, die CIA van Amerika en die Britse MI6. Dié drie ontken dit.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





