praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Thursday, 24. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Nuus Internasionale nuus Oliepryse styg na Iran se dreigement

Oliepryse styg na Iran se dreigement

E-pos Afdruk PDF

Oliepryse styg te midde van toenemende spanning oor die olie-roete in die Persiese Golf. Die prys van Brent-ruolie het sowat drie persent gestyg tot byna 111 Amerikaanse dollar per vat.

Ontleders sê die prysstygings word veroorsaak deur toenemende kommer dat Iran kan probeer om die strategiese Straat van Hormoez in die Persiese Golf vir olietenkskepe te sluit, indien Westerse lande nuwe sanksies instel.

Iran het Amerika gewaarsku om weg te bly uit die strategiese seestraat. Die Amerikaanse vloot sê hy sal 'n teenwoordigheid in die gebied handhaaf.

Amerika en die Europese Unie oorweeg verdere ekonomiese sanksies teen Iran, weens dié land se kernprogram.

'n Onderonsie sal skadelik wees vir die wêreldekonomie, aangesien die internasionale vraag na olie na verwagting sal styg tot 'n rekord 90 miljoen vate per dag.

Die Iranse dreigement is gemik teen die Amerikaanse Vyfde Vloot met sy tuisbasis in Bahrein.

Iran se weermaghoof, genl. Ataolla Salehi, gesê Iran sal optree as die Amerikaanse vliegdekskip wat in die omgewing rondvaar, na Bahrein terugkeer.

Die USS John C. Stennis, het Bahrein vyf dae gelede verlaat en deur die Straat van Hormoez na die Arabiese See gevaar.

Salehi het gewaarsku: "Ek raai die Amerikaanse vliegdekskip aan om nie na die Persiese Golf terug te keer nie."

Die Iranse vloot het pas tien dae van vlootoefeninge in die Golf voltooi, waartydens drie nuwe missiele getoets is. Die missiele het volgens kenners 'n reikafstand van honderde kilometers.

Olie word langs die Hormoez-roete uit Irak, Koeweit, Saoedi-Arabië en die olieryke Golfstaatjies na die wêreldmarkte vervoer. Iran het gesê as hy die straat sluit, sal dit die olieprys – wat nou net meer as $100 (R810) per vat is – moontlik laat verdubbel.



blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: