Die redakteur van 'n Nederlandse mode-tydskrif is afgedank nadat die publikasie 'n rassistiese term gebruik het om na die Barbados-gebore sangeres Rihanna te verwys.
Dié term "niggabitch" het 'n oorloggie op sosiale media tot gevolg gehad waarop Rihanna uiteindelik ook gereageer het. Rihanna het haar boodskap aan Hoeke afgesluit met: "Fuck you".
Eva Hoeke, redakteur van Jackie het saam met die tydskrif se uitgewer in 'n gesamentlike verklaring op Facebook gesê die ongelukkige rassistiese term, "alhoewel dit sonder kwaadwillige bedoelings gedoen was", is die rede dat Hoeke afgedank word nadat sy agt jaar deel was van die tydskrif.
Die term is in 'n artikel gebruik oor hoe om jou dogter soos 'n popster aan te trek.
Hoeke het aanvanklik gesê die gebruik van die term was as 'n grap bedoel.
Sy het later op Twitter om verskoning gevra en gesê: "1. Moet nie swak grappe in die tydskrif publiseer nie. 2. Moet nie maak asof swak grappe snaaks is nie. 3. Jammer ouens. My fout."
Rihanna het Dinsdag op Twitter gereageer en aan Hoeke gesê: "Jou tydskrif is 'n swak verteenwoordiging van die evolusie van menseregte! Ek vind jou oneerbiedig en desperaat!!"
In plaas van 'n positiewe artikel plaas wat Nederlandse meisies kan gebruik, het Rihanna gesê Jackie het gekies om 'n term te publiseer wat "vernederend is vir 'n hele ras. Dit is julle bydrae tot hierdie wêreld."
| < Vorige | Volgende > |
|---|





