'n Skouspelagtige betoging onder leiding van mnr. Avigdor Eskin, 'n PRAAG-ondersteuner, het gistermiddag laat in Tel Aviv, Israel plaasgevind. 'n Groep van ongeveer 30 betogers het voor die fontein op die Dizengoff-plein in wit gewade betoog teen die volksmoord en geweld wat daar tans teen die Afrikanervolk in Suid-Afrika gepleeg word.
Volgens mnr. Eskin het die res van die wêreld opgetree en ingemeng toe daar vermeende onreg teen swartmense in Suid-Afrika gepleeg is. Noudat daar massamoorde en gruweldade teen Afrikaners gepleeg word, heers daar egter 'n doodse stilte. Die bloed vloei vrylik in Suid-Afrika, maar niemand slaan ag daarop nie. Volgens Eskin is 190 000 mense reeds in Suid-Afrika vermoor waarvan 'n derde Afrikaners is.
Eskin het ook beklemtoon watter goeie vriende Afrikaners al die afgelope eeu of meer van Jode en Israel is. Hy het 'n beroep gedoen dat Israeili's hul hulp aan Afrikaners in hul uur van nood moet aanbied.
Dr. Roodt van PRAAG het in Johannesburg gesê: "Hierdie betoging is die eerste in 'n reeks aksies wat PRAAG vanjaar teen Afrikanervolksmoord van stapel stuur. Ons vriende van oor die hele wêreld, in Israel, Vlaandere, Nederland, Engeland, Frankryk, Rusland en die VSA, om maar enkeles te noem, staan slaggereed om 'n internasionale veldtog teen die uitwissing van Afrikanerkinders, -oumense en -boere te begin. Ons beplan ook 'n hofaansoeke, sowel in Suid-Afrika as in die buiteland, om vir eens en vir altyd die misdade teen die mensdom wat daar tans in Suid-Afrika gepleeg word te stuit."
Dr. Roodt vertrek binnekort na die VSA waar hy twee lede van die Amerikaanse senaat wat met die voorkoming van volksmoord gemoeid is, gaan besoek. Hy sal ook 'n referaat in Charlotte, Noord-Carolina lewer en met radiostasies en ander media in die Suide van Amerika onderhoude voer.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





