Willem Ratte bly in aanhouding ná vanmiddag se hofverrigtinge waartydens die staatsaanklaer, Fanie Mavundla, sy vrylating teengestaan het. Die volgepakte hof B in Witbank het met gespanne aandag geluister terwyl Mavundla in gemaak hoogdrawende Engels die staat se absurde klagtes teen Ratte probeer opvysel het.
Een van die staat se verrassings was dat die saak van dwelmhandel wat op dagga betrekking sou hê skielik laat vaar is. Maar 'n nuwe aantyging van die "besit van kinderpornografie" wat op Ratte se skootrekenaar gevind sou gewees het, is deur Mavundla gemaak. Die gehoor het hoorbaar na asem gesnak by die aanhoor van dié nuwe aantyging, wat herinner aan die meer onsmaaklike bewerings wat rondom die moord op Eugene Terre'Blanche gemaak is.
Die saak is vir nog 'n week uitgestel na 1 November 2010. Maar Ratte, wat reeds 24 dae lank op 'n eetstaking verkeer, het vandag in die hof swak en bleek voorgekom. Vooraf het hy lank kop onderstebo op die trappies wat vanaf die hofselle na die hof lei, gesit.
Die staat het ook beweer dat Ratte steeds in aanhouding moet bly omdat hy "in beheer" van die plaas en opleidingsentrum sou wees waar 'n onwettige wapen, 'n R4, gevind is. Hierop het sy regsverteenwoordiger, adv. Jurg Prinsloo, geantwoord dat dit sou beteken dat waar 'n skoolkind met dwelms gevang word die hoof gearresteer moet word of dat die hele kabinet van die land in hegtenis geneem moet word vir die 18 000 moorde wat daar jaarliks in die land gepleeg word.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





